As ek stapstewels soek, het ek gewoonlik drie vereistes: Hulle moet die “punch” kan vat op vakansie (ek wil nie die heeltyd “jammer” voel vir my stewels nie); hulle moet super-super gemaklik wees; maar derdens moet hulle ook darem na iets lyk. Veral as jy op vakansie oorsee is, wil jy nie lyk soos iemand wat pas onder ’n kakiebos uitgesleep is of jou brood en botter as ’n “appie” in Swannie se agterstraat-garage verdien nie.

Die Hi-Tec Equilibrio Bijou tik al hierdie boksies. Kom ons wees eerlik: Die meeste stewels is vir mans ontwerp en lyk soos manstewels. Maar nie die Equilibrio Bijou nie! Met prettige turkoois veters wat by die skoen se stiksel pas, is hierdie ’n stapstewel wat spesifiek vir vroue ontwerp is. En dit lyk genadiglik ook so. 

Ek was dadelik verlief op die Equilibrio’s. Jy kan nie glo dat nuwe stewels “uit die boks uit” so gemaklik kan wees nie. Ek los nou my paar agterin my voertuig. As my werkskoene my druk of die reën sak uit, gaan haal ek my Equilibrio’s uit die kattebak. Geen mens is lus om te suffer op kantoor nie.

Die Equilibrio in ’n neutedop:
• Die Equilibrio Bijou het ’n sintetiese bostuk en die i-shield-tegnologie waarvoor Hi-Tec al bekend geword het. Dit beteken die skoen is waterdig en vlekwerend. Ek was aspris en het met die skoene binne ’n rivier gaan loop. (Oukei, ek het my balans verloor en in die rivier geval.) Maar my voete het droog gebly. Die feit dat dit vlekbestand is, beteken jy hoef nooit jammer te voel vir jou skoene nie. As jy deur die modder geloop het, sal jy dit weer kan skoonkry agterna. 

• Daai gemak is danksy die OrthoLite Impressions-binnesole. Dis dieselfde sole wat in veldlooptekkies (“trail running shoes”) gebruik word, wat beteken dit is veerlig. (As dit lig genoeg is vir iemand wat oor ’n berg hardloop, is dit lig genoeg vir my.) Die sool het ’n skuimrubberkussing wat jou voet se vorm aanneem en kan die impak van klipperige terrein absorbeer. 

• My gunsteling-eienskap? Die sool is met ’n stof behandel wat antimikrobies en reukwerend is, sodat jy met selfvertroue jou stapstewels kan uittrek wanneer dit nodig is. In die somer het mense dikwels bietjie ekstra hulp nodig in daardie opsig.

• Die CMEVA-middelsool kan impak absorbeer – die Equilibrio is dus baie beslis ook ’n bergklimskoen. Dit is ook stewig genoeg dat die stewel jare lank sal hou. 

• Die tong en enkel van die stewel is met ’n sagte materiaal gestop – dit is waarom die stewel vanaf Dag Een gemaklik is. Die tong is ook so ontwerp om klippe uit die skoen te hou. As jy al die irritasie gehad het van los klippies in jou stewels op ’n bergstap, sal jy verstaan hoekom dit so ’n pluspunt is.

• Die poolvlieslaag aan die binnekant van die stewels lei sweet weg van die voete sodat dit droog bly. 


Opsomming: ’n Stapstewel wat die “punch” kan vat terwyl dit mooi lyk en lekker(der) ruik? Ek dink ons het ’n wenner hier beet! 

Jy kan dit by Cape Union Mart koop

Lees meer oor die skoen hier.