Hanno Matthysen (@hanno_matthysen_) van Swellendam is die wenner van die Weg Fujifilm-fotokompetisie – baie geluk! Sy foto van Moya, die skaaphond, wat omsien na ’n groepie skape is op hulle plaas by Buffeljagsrivier naby Swellendam geneem.

Dié foto het meer as 5000 ander inskrywings uitgestof. Hanno wen daarmee ’n Fujifilm X-T200-kamera met ’n 15-45 mm-lens ter waarde van R12 000. 

Hanno Matthysen
Hanno Matthysen se foto

Die naaswenner is Bertus Hanekom (@buks_84) van Loxton. Hy wen ’n Fujinon 12x28 Techno Stabi-verkyker ter waarde van R10 500. Sy nagfoto beeld ’n kamptoneel uit met die Melkweg wat bo-oor span. 

Bertus Hanekom
Bertus Hanekom se foto

Dis altyd moeilik om ’n wenner te kies en dié keer was geensins anders nie. Die Weg-redaksie het omtrent kop gekrap! Ons het gekyk of elke foto die tema gevolg het, en na tegniek en kreatiwiteit. Die foto’s wat ons twee, drie keer laat kyk het, het gou uitgestaan bo die res.  

Hanno se foto, ingeskryf onder die tema “Goue Lig” en gedeel op sy profiel op 8 Mei 2020, het egter telkens na vore getree as ’n gunsteling. 

Bertus se naaswennerfoto is ingeskryf onder die tema “Nagfotografie” en is op 29 Mei op sy profiel gedeel. 

Baie dankie aan almal wat deelgeneem het – ons wens ons kon meer pryse uitdeel om julle te beloon! Dit is merkwaardig om te sien hoe Weg-lesers die wêreld om hulle waarneem en waardeer – dis duidelik uit julle pragtige foto’s. 

Ons gaan in die toekoms van hierdie inskrywings ook in Weg se Mense se Lense-afdeling plaas, want ons glo dat baie van die foto’s hulle vlerke wyer kan sprei as Instagram. 

Baie dankie aan Fujifilm (@fujifilm_sa) vir die borg van die pryse.