Die Audi Q5.
Die Peugeot 3008.
Die Suzuki Ignis.

Die finaliste is, in alfabetiese volgorde: Alfa Romeo Giulia, Audi Q5, Land Rover Discovery, Volvo S90, BMW 5-reeks, Porsche Panamera, Peugeot 3008, Kia Picanto, Suzuki Ignis en die Toyota C-HR.

Uit hierdie lys is daar vier wat nie werklik in ons kraal val nie. Die Alfa Romeo Giulia en Porsche Panamera is lekker vuurwaens, maar hulle gaan sukkel op ’n 4x4-roete, en met woonwasleep gaan hulle ook nie eintlik hond haaraf maak nie. Die Alfa het ’n goeie kans om te wen, maar as ’n Porsche ’n vierde keer in ses jaar op die podium verskyn, gaan die gepeupel beslis die Gilde se kantore bestorm.

Die Kia Picanto en Toyota C-HR is gaaf vir ’n eerstejaarstudent of jong sakevrou, maar nes die Alfa en Porsche is hulle nie geskik vir sleep of grondpadry nie. Die kans dat een van hulle gaan wen, is ook bra skraal.

Die AUDI Q5, veral met lugvering, is ’n lekker grondpadryding en hy smeek om ’n Jurgens Safari op die haak. Ons voel hy het ’n uitstekende kans om met die louere weg te stap, omdat die Q5 aanklank vind by soveel verskillende tipes mense – en motorjoernaliste is deur die bank vol lof.

Die LAND ROVER DISCOVERY is die enigste veldryer op die lys, maar met ons veld-rytoets was ons bekommerd dat Land Rover effens afstand doen van sy erfenis (lees die verslag op bl. 30). Hoewel dit ’n uitstekende sleepvoertuig is, het min mense R1,5 miljoen in die bank vir ’n kar.

Wat sleep betref, is die VOLVO S90 blykbaar uitstekend. Ons sê “blykbaar” want ons kon self nog nie ’n toetsvoertuig met ’n sleepstang in die hande kry nie. Maar as oorsese berigte waar is, is veral die Europeërs gaande oor die S90 se sleepvermoë. Ons het wel die AWD-model op ’n grondpad bestuur en hy klou soos ’n neet.

Die Volvo S90.

Die BMW 5-REEKS (veral die 520d) is ’n lieflike sleepvoertuig. Uiteraard gaan hy ons nie beïndruk op ’n grondpad nie, maar dis ’n lekker maatskappyvoertuig terwyl jou veldryer geduldig wag op ’n langnaweek. Gaan hy as Motor van die Jaar gekies word? Onwaarskynlik.

BMW 5-reeks.

Die PEUGEOT 3008 is nie ’n ware sportnutsvoertuig nie en hy kan nie ’n woonwa sleep nie, maar die lugreëling het ’n ingeboude reukwaterpompie wat nogal koddig is. Met die druk van ’n knoppie kan jy kies tussen drie geure wat almal na jou Ouma se badkamer ruik.

Laastens is dit die SUZUKI IGNIS. Nes die Peugeot 3008 is hy ook nie ’n sleepvoertuig of veldryer nie, maar hy het ons tog mateloos beïndruk. As die nuwe Suzuki Jimny (ons wag al lank vir hom) idees by die Ignis steel, sal ons glad nie kwaad wees nie.