Daar was baie bespiegelings oor watter enjin en afwerkingsvlakke ons in Suid-Afrika gaan kry, maar uiteindelik kan ons die harde feite gee.

Die nuwe Suzuki Jimny sal aangedryf word deur ’n 1,5 l-petrolenjin met wisselbare kleptydreëling (VVT) wat 75 kW teen 6 000 r.p.m. en 130 Nm teen 4 000 r.p.m. lewer.

Jy gaan ’n keuse hê tussen ’n 5 spoed-hand- en 4 spoed- outomatiese ratkas.

Twee voertuie met verskillende afwerkingsvlakke was by die skou te sien: ’n basismodel-GA en die luukser GLX. Albei modelle was voorproduksieprototipes, maar ons is beïndruk.

Die Jimny

Twee dinge wat veral die oog getref het, is die ouskool kortkiere waarmee jy die viertrekstelsel inhaak, en die geut op die rand van die dak waaraan jy feitlik enige dakrak in enige posisie kan monteer.

Uiteraard was die opvallendste eienskap die hoekige bakwerk met ’n retro-ontwerp. Die GA-model sal toegerus wees met lugreëling, kragstuur en ’n enjin-immobiliseerder. Ook sluitweerremme, remdrukbeheer en ISOFIX-kinderstoel-ankerpunte. Daar is lugsakke voorlangs, elektroniese stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, ’n outomatiese remfunksie wat jou teen ’n steil bult op en af help, en natuurlik Suzuki se verbeterde AllGrip Pro- deeltydse viertrekstelsel met ’n oordraratkas wat nou met ’n kortkiere eerder as die vorige knoppie ingehaak word.

Ondanks die ooraanbod tegnologieë is die GA-model steeds lekker eenvoudig met 15”-staalwielvellings en doodgewone slingers waarmee jy die ruite op- en afdraai. Ons hou daarvan. Hy het ook geen radio nie, hoewel daar darem voorsiening gemaak word vir een.

Die binneruim
Die binneruim

Die luukser GLX-model het al die GA se katoeters plus die volgende: Deurknippe en syspieëls wat dieselfde kleur geverf is as die bak, elektriesverstelbare ruite en syspieëltjies, ’n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer in die sleutel, en kruisspoedbeheer. Hy’t ook LED-projektorhoofligte, misligte, ’n 7”-raakskerm in die middelkonsole vir die mediasentrum (met Bluetooth, USB-sokke en ’n SD-kaartgleuf), telefoonknoppies op die stuurwiel (wat met egte leer oorgetrek is), en ’n 12 V-sok in die bagasieruim.

Suzuki beweer die Jimny gaan spog met ’n brandstofverbruik van slegs 6,3 l/100 km – dit klink sommer heel gaaf as ’n mens in ag neem hoe duur brandstof deesdae is.

Tensy ons ekonomie nóg ’n paar houe kry, beoog Suzuki Suid-Afrika om die Jimny GA-handrat teen R265 000 te verkoop, die GLX-handrat teen R300 000 en die vlagskip, die outomatiese GLX, teen R320 000.

Die nuwe Suzuki Jimny is van 1 November af landwyd by Suzuki-handelaars beskikbaar, maar gaan gee solank jou naam vir ’n verkoopsagent, want die waglys is al klaar lank.