Die algehele wenner is Emma Kleynhans – sy wen 7 nagte se verblyf vir twee mense by die Kob Inn Beach Resort ter waarde van R20 000. 

foto
Foto: Emma Kleynhans/@emkleyn

Toast Coetzer, Weg se reisredakteur, sê:

“Ons is mal oor hierdie foto! Die foto is kunstig geneem, en die komposisie is perfek. Ons hou van die pragtige tert in die voorgrond, en die stadsliggies wat nog vonkel in die agtergrond. Dit is in die buitelug geneem, wat aansluit by Weg as reistydskrif. Dit bring die melktert as tradisionele gebak netjies in ’n moderne konteks binne ’n gesonde, aktiewe leefstyl.”

Die naaswenners is Corné Franken, Belinda Burdett en Gerda Els. Hulle wen elk ’n Camp Cover-pieknieksak ter waarde van R1 100.

foto
Foto: Corné Franken/@corne.franken

“Die melktert speel die hoofrol hier, maar die byspelers is net so oulik! Kyk mooi en jy sal sien dat die honde elkeen ’n unieke naam gekry het: Ladi, Smith en Weg!” sê Toast oor Corné se foto.

foto
Foto: Belinda Burdett/@belindaburdett

Hier’s Toast se kommentaar oor dié inskrywing: “Belinda en haar man het duidelik baie moeite gedoen om hierdie foto te neem – extreme milk tarting op sy beste!” 

foto
Foto: Gerda Els/@gerdaels

“ ’n Goeie foto met mooi beligting, geduldige modelle en fyn besonderhede – soos die hondespore op die klein melktertjies voor die honde,” sê Toast oor Gerda se foto.

Denise Smit wen ook ’n Ladismith-geskenkpak vir dié inskrywing:

foto
Foto: Denise Smit/@denisesmit123

Toast sê: “Hier is baie kreatiwiteit te bespeur – en hoe meer en hoe fyner jy kyk, hoe meer besonderhede sien jy raak. Die oorspronklike titel was ‘Melktertfabriek: Dis waar dit als begin.’ Elke toneel beeld iets uit wat die proses van melktertmaak verduidelik.”

Ladismith Cheese wil graag al die deelnemers bedank vir die moeite wat hulle met die inskrywings gedoen het.

Tot volgende jaar… lank lewe die melktert!