Kamp in die bos by Dinokeng

Dinokeng, die enigste Groot Vyf-reservaat in Gauteng, het nóg ’n kampplek bygekry.

Devon en Sherri Symons het op hulle grond van 42 ha vyf staanplekke in die bos ingerig en dit genoem na hulle seuns, Kyran en Leuan.

Wat die Kyleu-boskamp besonders maak, is dat nóg die staanplekke nóg die kampplek omhein is. Hier kan jy jou maklik verbeel jy sit in die Okavango waar die wilde diere – ook leeus – enige tyd deur jou staanplek kan loop.

Boonop staan jy ’n goeie 40 m van jou bure af, wat beteken jy gaan nie regtig van die ander kampeerders weet nie. Elke staanplek het sy eie badkamer met ’n stort, toilet en opwasplek, maar hier is nie 220 V-krag nie.

LED-liggies wat met sonpanele werk, sorg dat ’n mens kan sien as jy laatnag ’n draai wil loop. Sowat 100 m van dié staanplekke af – by ’n stroompie – is nóg twee staanplekke sonder enige geriewe; hulle is bedoel vir mense wat selfvoorsienend kamp.

Kampeerders op die bosstaanplekke kry een sak gratis braaihout per dag – as jy nog nodig kry, kan jy teen R15 per sak koop. Devon-hulle bied ook wildritte aan waarop hulle jou die res van Dinokeng en sy diere wys. Dit kos R150 p.p. en neem 2 uur.

Die Symonse het reeds ’n verdere 6 ha toegespan waarin hulle volgende jaar “gewone” staanplekke wil inrig met geriewe soos krag, ’n swembad en winkel.

Pryse Bosstaanplekke: R110-R190 p.p.p.n., afhangend van die seisoen en spesifieke dag van die jaar (gratis vir o.6’e) – 8 mense word per staanplek toegelaat. In skoolvakansies en oor naweke moet jy vir ’n minimum van twee nagte bespreek.

Rivierstaanplekke: R100 p.p.p.n. (heeljaar). Omdat die kampplek in ’n reservaat is, word geen troeteldiere toegelaat nie.

Kontak  060 458 4478;  info@kyleu.co.zakyleu.co.za


Hardbody kry nuwe topmodel

Nissan het sy nuwe NP300 Hardbody 2.5 TDi 4x4-dubbelkajuitbakkie by vanjaar se Nampo-oesfees bekend gestel.

Dié bakkie sal die dubbelkajuit met die 2,4 l-petrolenjin en die 2,5 l-4x4-enkelkajuit vervang as die topmodel in die Hardbody-reeks. Dié nuwe Hardbody kry standaardtoerusting soos breër modderskerms, 16”-allooiwielvellings, versterkte staalhake in ’n 1 425 mm lange laairuim.

Die Hardbody het ook lugreëling, elektriese ruite, ’n afstandbeheerbare sluitstelsel en twee lugsakke. Onderlangs kry hy ’n beperkte glipewenaar wat saam met die standaardviertrekstelsel werk.

Die model op die foto is verder toegerus met Nissan se Rogue-pakket wat verskeie kosmetiese bykomstighede insluit soos plakkers, swart allooiwielvellings, leersitplekke, luukse vloermatjies en ’n klankstelsel met Bluetooth- verbinding en satellietnavigasie. 


Van stokperdjie tot besigheid

Toe Brandon Conradie van Somerset-Wes vier jaar gelede sy eie boswa bou, het hy nie in sy wildste drome gedink dié belangstelling sal uitloop op ’n onderneming nie.

Vandag is Brandon die eienaar van Kamma Trailer, en hulle bou drie verskillende modelle: die 900s (volgens Brandon die gewildste); die 700s, wat ’n raps kleiner en ongerem is; en die Terra Maximus, ’n groter weergawe van die 900s.

Brandon sê die idee is glad nie om die groot vervaardigers die stryd aan te sê nie; hy wil eerder op kampeerders fokus wat ’n eerste of tweede wa koop.

Pryse wissel van R80 000 tot R103 000. Al drie waens se romp bestaan uit aluminium of vlekvrye staal en jy kan uit vyf kleure kies – van beige tot donkerbruin en babablou.

Al die skarniere is ook van vlekvrye staal.

Brandon gebruik ’n modulêre uitleg vir al sy waens. Daar’s twee regop deure voor asook twee horisontale deure én ’n gewone een agter. Hiermee saam kan jy tussen vier binne-uitlegte kies – en as jy iets anders in gedagte het, pas Brandon by jou idee aan.

In die standaardvorm is die waens heel basies – die 900s beskik byvoorbeeld oor die volgende: ’n glyraam vir ’n ys-vrieskas (vir tot ’n 60 l-grootte), 220 V- en 12 V-sok, verstelbare dakrak, ’n neuskas met een deur, pyphoekstutte agter met nog ’n stut by die neuswiel, en rubbermatjies vir die binnekant.

Brandon verduidelik die meeste van sy klante het al ’n waentjie besit en baie van hulle het reeds kamptoerusting soos ’n yskas, stoof en daktent. Jy kan dus die standaardwa toerus met net dít wat jy kort.

Die syfers

3,4 (l) x 1,8 (b) x 1,6 m (h); tarragewig ± 400 kg (sonder daktent); BVM 1 500 kg; en 1 600 kg-as.

Kontak 082 773 6044; brandon@kammatech.co.zakammatrailer.co.za


Nr.  27 vir 4x4 Mega World

4x4 Mega World het sy negende Gautengse kleinhandelaar in Edenvale oopgemaak.

Hulle het nou 27 handelaars landwyd waarvan die helfte aan Mega World self behoort en die ander franchises in private besit is.

Adres Winkel 25, Meadowdale Mall, Edenvaleweg, Sunny Rock, Edenvale.

Kontak  011 454 2875 


Rolls se eerste sportnuts

Die wêreld se luuksste sportnutsvoertuig – genoem na die grootste diamant van juweliersgehalte wat nóg gevind is (in 1905, by Cullinan naby Pretoria) – is op pad na Suid-Afrika.

Hoeveel Rolls-Royce Cullinans jy op ons paaie gaan sien, weet nugter, maar daar is heelwat Douw Steyns en Patrice Motsepes wat hom kan bekostig.

Jan Alleman gaan nêrens kan uitvind wat hy kos nie; as jy een kan bekostig, het Rolls jou waarskynlik al gebel. Indien jy ’n nuwe miljoenêr is en nog nie op Rolls-Royce se fluweellys verskyn nie, kan jy hulle webblad besoek en jou eie unieke Cullinan saamstel.

Daarna kan jy vra dat ’n agent jou kontak. Ons het ons droom-Cullinan op hierdie manier gebou, en hoewel ons nie kon saamstem of ons die Spirit of Ecstacy-neusbeeld in klatergoud of kristal gaan neem nie, het almal saamgestem dat die piekniektafel van koromandelhout moet wees.

Teen druktyd het Rolls-Royce ons nog nie genader nie, maar ons reken as ons almal beursies bymekaar sit, sal ons dalk die piekniektafel (sonder die kar) kan bekostig.

Kontak rolls-roycemotorcars.com 


Verbeterde Ford Rangers

Ford Suid-Afrika gaan volgende jaar ’n opgegradeerde Ranger bekend stel danksy ’n R3 miljard-belegging in sy Silverton-aanleg in Pretoria en Struandale-enjinaanleg in Port Elizabeth.

Die verbeterde Ford Rangers sal uit Suid-Afrika na 148 markte in Europa, die Midde-ooste en die res van Afrika uitgevoer word.

Daar word gefokus op verbeterde veldryvermoë, laer brandstofverbruik en gevorderde veiligheidseienskappe. Nuwe aandrywingstelsels gaan saam met die modelle bekend gestel word, waaronder ’n splinternuwe 2.0 Bi-Turbo-dieselenjin wat in die Ranger Raptor vasgebout gaan word.

Dié enjin ontwikkel 500 Nm teen 1 750 r.p.m. en dryf ’n 10 spoed- outomatiese ratkas aan. Ander nuwighede is outonome noodremme met ’n voertuig- en voetganger-waarnemingstelsel en semi-outomatiese parallelle parkering.


/

Tentopslaan... op die maklike manier

Kitstente maak ’n mens se lewe soveel makliker – as jy al stoksielalleen ’n konvensionele 3 x 3 m-koepeltent probeer opslaan het, sal jy weet watter sweet en frustrasie daarmee gepaardgaan.

Camp Master het nou twee nuwe kitstente bekend gestel waarvan die pale deel van die tent is. Die gedagte is dat jy dit alleen kan opslaan.

Jy vou bloot die Instant Cabin op die grond oop, lig die seile, en soos jy lig, klik die pale in... en daar staan hy. Die dakseil is steeds apart en jy trek dit net laaste oor.

Die Instant Cabin is in twee groottes beskikbaar: Daar’s een vir 6 mense (Instant Cabin 600; R1 999) en een vir 10 (Instant Cabin 1000; R2 599). Die tente is beskikbaar by Makro.


Palomino verloor sentimeters

Palomino-abbawaens het ’n model bekend gestel wat spesifiek gemik is op Suid-Afrikaanse bakkies.

Omdat Palomino Amerikaans is, was die bestaande modelle 254 mm breër as ons bakkies. Die nuwe SS-500 is 1,95 m breed en hang dus nie meer so ver oor nie.

Die kenmerkende elektriese opwipdak bly standaard, en wanneer dit gelig is, is daar genoeg ruimte sodat ’n mens op die bed kan sit. Die deur sit agter (waar die klap van die bakkie sou wees) met ’n 57 l-yskas links binne teen die paneel, met regoor dit ’n tweeplaatgasstoof met ’n wasbak.

’n Watertenk van 60 l sorg vir water by die wasbak. Die bedgedeelte – ’n koningingrootte – strek oor die dak en ’n mens slaap in die lengte; jy klim dus nie oor jou bedmaat op of af nie.

By die opklimgedeelte voor die bed is ’n paar bankies as jy eers ’n koffie wil wegslaan voor jy die oggend uitklim. Die SS-500 pas op enkelkajuit-, verlengdekajuit- én dubbelkajuitbakkies.

Gewig 557 kg. Prys ± R250 000.

Kontak  palominorv.co.za


Spesiale Hilux

Teen die tyd dat jy hier lees, is Weg Ry & Sleep by die amptelike bekendstelling van die Hilux Dakar Limited Edition.

Dié Hilux kry ’n nuwe vooraansig wat sterk herinner aan die gewilde Toyota Tacoma wat in Amerika verkoop word.

Teen druktyd was dit nie duidelik of ál Toyota se Hilux-bakkies mettertyd die nuwe sierrooster en buffer gaan kry nie, maar daar is ’n sterk moontlikheid, veral in die dubbelkajuitweergawes.

Die pryse is soos volg: 2.8 GD-6 RB Dakar R535 000 2.8 GD-6 RB Dakar (outo) R553 400 2.8 GD-6 4x4 Dakar R601 100 2.8 GD-6 4x4 Dakar (outo) R621 000 4.0 V6 4x4 Dakar (outo) R662 700 Lees ons indrukke van die Dakar-weergawe in die volgende uitgawe van Weg Ry & Sleep.


Alles in die haak by Brink

Brink Towing Systems, een van die grootste sleephaakvervaardigers in die land met sy aanleg in Pietermaritzburg, het pas sy 350 000ste haak gebou.

Dié haak is, heel gepas, aan ’n Ford Ranger gesit (meer as 80% van al Brink se hake pryk op Rangers). Hierdie stang weeg ’n volle 40 kg en sluit ’n hele 4 m sweiswerk in.

Die rou staal wat vir al dié stange gebruik is, is saam swaarder as 10 000 ton. As daar enige toeval in syfers sou wees, is hierdie Ranger-haak se maksimumsleepvrag vasgestel op 3 500 kg.

Brink is die goedgekeurde verskaffer aan 90% van die motorhandelsname in die land.

Kontak: angelique.pienaar@brink.eu