Fotograwe moes elke week ’n ander tema uitbeeld, van “Skadus en Silhoeëtte” en “Troeteldiere” tot “Selfportret” en “Beweging”. Die algehele wenner is Marietha Moolman (Instagram: @marietham) van Beaufort-Wes met haar foto van ’n kat wat op ’n vensterbank sit (onder die tema “Skadus en Silhoeëtte”). Marietha wen Weg se aanlynfotografiekursus Neem Beter Foto’s ter waarde van R950. 

Marietha Moolman
Marietha Moolman se foto

Die kat in die foto se naam is Cougar, maar Marietha sê hulle noem haar sommer net Koeks. “Dis net ‘Cougar’ wanneer sy raas kry,” vertel Marietha, “soos wanneer sy buite in die stof gerol het en dan binne op die bank kom lê met haar stofjas.”

Marietha en haar man woon op ’n Karooplaas tussen Beaufort-Wes en Loxton en sê dat Aprilmaand se grendeltyd hulle daaglikse lewe nie veel beïnvloed het nie.

Koeks
Marietha Moolman met Koeks

“Dit was net nóg ’n bietjie rustiger as gewoonlik, en dis wat ons verkies. Ons gaan normaalweg dalk een keer ’n week dorp toe, na Beaufort-Wes. Ek was verlede Vrydag die eerste keer in vyf weke op die dorp. Dis ook lekker om my oudste seun wat ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch is, by die huis te hê. Hy doen vir tyd en wyl sy studies aanlyn.”

Intussen gaan Marietha aansluit by haar seun en aanlyn studeer – Neem Beter Foto’s kan jy in jou eie tyd tuis doen. Alles is aanlyn. Gaan na neembeterfotos.weg.co.za as jy belang stel. 

Tweede plek is toegeken aan Erasmé Viljoen (Kaapstad, @erasme_viljoen) vir haar foto van ’n glasogie wat in die water speel, en daar is drie derde pryse toegeken: Ester Smith (Windhoek, @kleinplasie), Mariska Human (Nanaga, @mariskah82) en Philna de Villiers (Worcester, @philnadev). Baie dankie aan almal wat deelgeneem het!

Erasmé Viljoen
Erasmé Viljoen se foto
Mariska Human
Mariska Human se foto
Ester Smith se foto
Ester Smith se foto
Philna de Villiers
Philna de Villiers se foto

Weg hou nóg ’n fotokompetisie in Mei geborg deur Fujifilm. Lees meer hier