Ons het honderde fantastiese stapfoto’s ontvang wat wys hoe lief julle daarvoor is om ’n draai in die veld te stap en dat julle ook glad nie bang is vir gróót stapavonture nie! Ons het foto’s ontvang van klassieke roetes soos die Vis, die Otter en die Amatola, en selfs van ver staptogte in die Himalajas.

Maar bowenal is dit duidelik julle is lief om op tuisbodem te stap  met foto’s uit die Bosveld, die Drakensberg, die Karoo en oral langs ons kuslyn.

Die wenner van die kompetisie is Heinrich Human van Mbombela. Ná net een kyk na sy foto wil jy dadelik die Drakensberg uit! Heinrich wen die First Ascent Jupiter II-rugsak (65+10 liter) ter waarde van R2699 – baie geluk!

Heinrich het sy foto in 1994 geneem – op skyfiefilm!
Heinrich Human
Heinrich Human
Jupiter
Die First Ascent Jupiter II-rugsak

Heinrich het hierdie foto in 1994 geneem – op skyfiefilm! “Dit was Februarie 1994 en ons was in die Giant’s Castle-omgewing in die Drakensberg,” vertel Heinrich. “Ons het van Bannermanhut gestap en Bannermanpas uitgeklouter, en toe ons bo kom, het ons besluit om die nabygeleë Popplepiek uit te klim. Die piek lê eintlik net-net in Lesotho en is 3 331m hoog. 

“Suid van ons het ’n storm begin opsteek en ek het dié foto op pad terug van Popplepiek geneem. Ons het eers teen donker weer by Bannermanhut uitgekom, papsopnat maar met hengse glimlagte!”

Heinrich het die foto geneem met sy Pentax Z-10 en ’n Pentax 28-80 mm-lens. Die verstellings was: sluiterspoed 1/125ste van ’n sekonde, lensopening f11 en dis geneem op 100 ASA Fujichrome Sensia-skyfiefilm, wat dit daardie mooi diepblou en groen kleure gee.

Die tweede prys gaan aan De Wet Denkema van Ladismith. Hy wen die First Ascent Venus II-rugsak (55+10 liter) ter waarde van R2499 – geniet jou prys!

Foto: De Wet Denkema
De Wet Denkema
De Wet Denkema
Venus
Die First Ascent Venus II-rugsak

De Wet en ’n groep vriende het vroeg in Julie 2020 die ikoniese Towerkop buite die dorp uitgeklim. Hierdie foto is laatmiddag geneem en wys die uitsig van die oorhang (links op die foto) waaronder die stappers oornag het.

“Ek het ’n entjie weg van die slaapgrot gaan stap om ’n uitsig oor die Klein-Swartbergreeks te kry waarvan Towerkop deel is,” vertel De Wet. “Dis toe dat ek sien die maan kan deel wees van die foto en ek gryp my driepoot en stel dit op teen ’n klip! Die foto is geneem met my Nikon D5500 met ’n Nikon 18-55 mm-lens, en die sluiterspoed was 1/10de van ’n sekonde, met die lensopening f5.6 en ISO 400.

“My broer het die stap beplan, maar weens lockdown moes ons dit drie keer uitstel. Ons was ’n groep van 10 studente wat saam geklim het. Hierdie was my sewende keer dat ek Towerkop geklim het – en geensins my laaste!”


Dankie aan First Ascent vir die lekker pryse!