Dis algemeen bekend dat olifante oor groot afstande met mekaar kan kommunikeer. Hulle doen dit met klanke wat só laag is dat mense dit nie kan hoor nie. Dié klanke is bekend as infraklank – letterlik “onder klank”.

Daar is vir lank verkeerdelik gemeen dié lae murmurerings is die olifante se maag wat grom, maar nou weet ons dis deel van hulle vokalisasies. Wanneer olifante boonop binne slurp-afstand van mekaar is, gebruik hulle dit om mekaar aan te raak, streel, verken en omarm. (Omslurp? – Red.)

Die slurp dien nou as hand, arm, neus en sommer strooitjie en tuinslang ook. ’n Ma sal haar kleintjie beskermend vashou, maar dit ook as roede inspan om balhorige jongelinge op hulle plek te hou. Dis selfs veelsydiger as Chris Morris!

Olifante funksioneer in hegte familie-eenhede, en diere wat naby verwant is aan mekaar (soos die twee op die foto) sal gereeld ’n slurp in ’n ander een se mond druk om hulle familiebande te bevestig.