Die wenke geld slegs vir veldryvoertuie wat op toegesneeude 4x4-roetes ry. ’n Ysige teerpad in ’n allewielaangedrewe voertuig is ’n perd van ’n ander kleur.

  • Bande met ’n aggressiewe loopvlakpatroon is uiteraard van onskatbare waarde. Veldrybande het ’n reusevoordeel bo padbande, en as jy beplan om Lesotho, die Vrystaat, Karoo of Boland in die sneeuseisoen te besoek moet jy nie met Pirelli P Zero’s opdaag nie.
  • Verlaag jou banddruk vir diep sneeu, maar nie so laag as wat jy sou vir los sand nie. Sneeu, veral as dit lank gelê het, kan bande makliker as sand van hulle vellings af druk, en daarom moet jy die banddruk effens verlaag. Kortom: Jy moet eers ’n bietjie sukkel voor jy verder afblaas. Waldo de Kock, een van die eienaars van Matroosberg- private natuurreservaat, stel ’n betreklik stywe 1,8 bar voor vir laeprofielbande, terwyl hoëprofielbande hier nooit laer as 1,5 bar afgeblaas hoef te word nie (en ook net mits jou bande en vellings so ’n lae druk toelaat). Lae banddruk help inderdaad met nat rotse en glibberige modder wat jy ongetwyfeld in sneeu gaan teëkom, maar hou in gedagte dat Matroosberg én Lesotho se roetes skerp draaie het, en diep sneeu se digtheid kan wissel tussen babapoeier en beton wat ’n band tjoef-tjaf van sy velling af kan druk.
Foto: Cyril Klopper
Foto: Cyril Klopper

  • Diep sneeu verg laestrekratte (4L) en goeie momentum om vorentoe te ploeg. Sodra jy ophou vorentoe beweeg, moet jy (net soos in sand) onmiddellik stilhou, vóór jy sake vererger. Skakel terug na hoëstrekratte (4H) as jy vir ’n lang ent moet terugstoot. 4H oefen nie soveel wringkrag uit op die sneeu nie en jy kan veilig in jou ou spoor terugstoot. Indien jy in 4L terugstoot, grawe jy dalk ’n nuwe spoor uit jou ou spoor, en dan sit jy op ’n ander plek vas. As jy boonop herhaaldelik vorentoe en agtertoe ploeg om te probeer loskom gaan jy die sneeu mettertyd kompakteer totdat dit ys vorm waarop jou bande nóg minder vastrap het.
  • Nóg ’n ooreenkoms tussen sneeu en sand is dat jy jou voertuig meer met die versnellerpedaal moet bestuur as met die stuurwiel. Werk lugtig met die stuurwiel en geesdriftig met die pedaal. Ons sê nie jy moet heeltyd voet-in-die-hoek ry nie, maar moet ook nie skaam wees om nou en dan vet te gee nie. ’n Uitsondering op dié wenk is wanneer die sneeu vars en donsig genoeg is dat jy maklik daardeur kan beur.
  • Probeer om teen afdraandes stil te hou eerder as teen opdraandes. Maar as jy op gladde ys stilhou, moet jy gelyk grond kies. Teen ’n opdraande gaan jy sukkel om weg te trek, en teen ’n afdraande gaan jou trokkie begin skaats, selfs met die handrem opgetrek. 
  • Steil opdraandes in sneeu soek 4L en ’n bestendige dog gretige spoed. Daarteenoor verg steil afdraandes min spoed – eintlik net genoeg om jou aan die beweeg te hou. Want nes sand gaan sneeu jou probeer rem. Steil opdraandes op ys verlang 4H en momentum, maar nie versnelling nie. Sodra die wiele op ys tol, gaan jy beheer verloor. Dié beginsel geld vir alle ys, tensy jou naam Mika Häkkinen is. Steil afdraandes op ys soek 4L in eerste rat – hier werk elektroniese afdraandebeheer selfs beter. Druk die knoppie, sit agteroor en luister hoe die elektronika knorgeluide maak terwyl dit jou veilig teen die steilte afhelp. Hou jou voet liefs weg van die rempedaal, veral as jy ’n ouskoolse ryding sonder afdraandebeheer het. Indien jy wel gly, moet jy die voorwiele in die rigting van die gly draai en nooit dwars nie. Mik vir ’n lekker groot klip waarteen jy kan bots. ’n Ingeduikte buffer is veel beter as om teen ’n berg af te tuimel.
  • Baie nuwe voertuie het elektroniese programmatuur spesifiek vir sneeu. As jou trokkie ’n Sneeu-modus het, moet jy dit beslis gebruik, want dié vastrapbeheerstelsel is spesifiek vir dié doel geprogrammeer. Indien jou voertuig dit nié het nie, is dit raadsaam om die vastrapbeheer in diep sneeu af te skakel en eerder ’n doodgewone ewenaarslot in te haak.
  • Neem die volgende herwinningstoerusting saam: ’n langsteelgraaf met ’n bakvormige lem, sandplanke, ’n kinetiese strop (dit herwin beter in sneeu as ’n vaste sleeptou) en ’n waterdigte seiltjie waarop jy kan werk want, glo ons vry, jy wil nie vir langer as ’n paar minute in sneeu lê en skoffel nie!


Dié artikel is aangepas uit Weg Ry & Sleep se Augustus-uitgawe (Weg Ry & Sleep #37).

Toe die eerste sneeu van 2020 in die Wes-Kaap val, het honderde Kapenaars na die Matroosberg opgeruk. Cyril Klopper is agterna met sy kamera en reispermit. Lees die volledige storie in die Augustus-uitgawe hier.