Foto’s Craig Kolesky en Kyle Kock

Jy is in die middel van nêrens met jou boswa om ’n bietjie nader aan die natuur te kom en jou ys-vrieskas is van hoek tot kant gepak met alles van tjops en wors tot die vars tamaties en kaas vir die allerbelangrike braaibroodjies.

Maar die papaja tref die spreekwoordelike waaier en die ys-vrieskas gee die gees – en nou voel dit vir jou jy is ’n leeftyd weg van die beskawing af sonder enige vars proviand.

In situasies soos dié waarin jou daaglikse voeding bedreig word, help dit om ’n plan B te hê. Gelukkig hoef jou oorlewing nie af te hang van daardie droë en onsmaaklike beskuitjies nie.

Ons het gaan soek na kos wat byna onbederfbaar is – en op ’n klompie gawe verrassings afgekom waarin geen smaak, kalorieë of voedingswaarde ingeboet word nie.

Die belangrikste maaltyd

Volgens die Voedingsvereniging van Suid-Afrika, wat saam met die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbouorganisasie gewerk het om dieetkundige riglyne spesifiek vir ons land saam te stel, moet ’n mens by elke maaltyd stylsel inkry.

Die meeste van ons ken mieliepap, veral vir ontbyt. Jy kry variante wat vinniger kook, en van hulle kan jy binne twee minute eet.

Mieliepap sorg vir omtrent 1 400 kilojoules in ’n enkele 100 g-porsie. Maar nie almal is gaande oor mieliepap nie, en daarom is die Jungle se Oatso Easy-pakkies ook ’n maklike opsie om te oorweeg.

Dit is beskikbaar in ’n verskeidenheid geure en jy roer bloot kookwater by voor jy dit kan eet. Jy kry meer as 800 kilojoules per porsie in en die vesel help sommer ook om jou spysverteringstelsel beter te laat werk.

Weg Ry & Sleep sê

Jou pap hoef nie vervelig te wees nie. Roer ’n teelepel of twee appelsous in om hom op te dollie.


Hoog en vriesdroog

De Nieu-Seelandse maatskappy Back Country Cuisine doen al sedert 1998 sake, en sy produkte is al die laaste dekade in Suid-Afrika beskikbaar.

Ons het met Rob French, die eienaar van Toredo, plaaslike invoerder van Back Country, oor dié interessante soort kos gesels.

“Die groot verskil met Back Country Cuisine-produkte is dat hulle nie met warm lug ontwater is nie, maar eerder ’n ingewikkelde proses ondergaan waar die bestanddele vir elke maaltyd blitsvinnig gevries word in ’n groot vrieskas wat amper op dieselfde manier werk as ’n hiperbariese kamer.

Die vinnige vriesproses sorg dat al die vog in die kos behou word, maar dan word die termperatuur stadig verhoog en die water verdamp – en die verskil in lugdruk verwyder die vog uit die kos. Al wat oorbly, is ’n amperse poreuse soort spons van die oorspronklike kos.”

Die reeks wat plaaslik beskikbaar is, sluit 24 verskillende produkte in, waaronder selfs nagereg. “Kos wat gevriesdroog is, behou omtrent 95% van die oorspronklike voedingswaarde. Die reuk en die smaak verskil nie veel nie, maar die tekstuur is natuurlik anders as dié van die vars produk.”

Hoewel die maatskappy aanbeveel dat jy die kos vir nie langer as 3 jaar moet hou voor jy dit gebruik nie, meen hulle dit sal in die regte toestande vir tot 30 jaar hou.

Ons het twee van die produkte probeer, die herderspastei en appelkooskrummelpoeding. Die instruksies is maklik om te volg. Jy maak dit oop, voeg kookwater by, roer dit goed deur en seël weer die bakkie.

Ná 10 minute breek jy nóg ’n seël laer af in die verpakking en eet dit net so uit die bakkie uit. In albei geregte is ’n pakkie met ’n bykomende bestanddeel wat jy uithaal voor jy die maaltyd gaarmaak – die nagereg se krummelkors en die herderspastei se kapokaartappels.

Jy voeg die krummelkors net so by, maar die kapokaartappels moet jy ook eers met kookwater aanmaak.

Back Country se produkte is nie goedkoop nie, maar dit is gerieflik, en wanneer jy tussen niks en nêrens is nie, is dit waarskynlik die naaste wat jy aan Sondagmiddagkookkos gaan kom. Jou opsies sluit in lamsvleis met groente, spaghetti-bolognese, Thaise hoenderkerrie en selfs appeltert.

Weg Ry & Sleep sê

Moenie die bestanddele met ’n vurk roer nie, want jy kan dan per ongeluk ’n gat in die verpakking druk. En maak seker jy gebruik genoeg water om alles ordentlik te meng.


Dat die sop so spat

Ja, ons weet hierdie produkte gaan nooit kan kers vashou met die sop wat jou ouma gekook het as julle in die wintervakansie gaan kuier het nie, maar honger bly per slot van sake die beste kok.

Daar is verskeie keuses op die winkelrak as dit kom by blikkiesop en “Cup-a-soup”-produkte. Droë sop soos dié lewer so te sê dieselfde voedingswaarde as die ware Jakob teen net meer as 100 kilojoules per gram.

Jy kry dit in ’n boksie met vier afsonderlike pakkies wat jy kan eet soos jy dit benodig, terwyl dit moeilik kan wees om die oorskiet van die blikkiesop te bêre as jy nie die 400 g op jou eie kan opeet nie.

Weg Ry & Sleep sê
Die poeiersop is nie net goedkoop nie, maar ook goeie waarde vir geld. Maar met blikkiesop is daar ’n groter verskeidenheid.


ou Soettand

Ons sê nou nie jy moet jou vergryp aan die soetgoed nie, maar as jy ’n vinnige sarsie energie nodig het, kan een of twee lekkers tot 350 kilojoules in ’n 25 g-porsie bevat.

Daar is egter geen voedingswaarde nie, want dit is amper net suiker.

Appelsous is basies nagereg in ’n fles, maar dit is ook smaaklik saam met braaivleis. Om die waarheid te sê, appelsous werk saam met alles wat in hierdie artikel genoem word.

Weg Ry & Sleep sê

Jy kan die appelsous met heuning vervang – en heuning is nie bederfbaar nie.


Proteïenkrag

Ingemaakte vleis is iets wat die vermoë het om mense te verdeel, maar dit is iets wat jy dadelik kan eet, net so uit die blikkie.

Nie net sorg ’n 150 g-porsie boeliebief vir 881 kilojoules nie, maar dit lewer ook ’n stewige 15 g proteïen. Al hoe meer geure word deesdae bekend gestel; dus kan diegene wat nie van die oorspronklike hou nie, dalk heroorweeg, veral as hulle in die knyp is.

Wat vis betref, is geblikte tuna ’n groot gunsteling, veral onder mense wie se begroting nie strek tot by salm nie. Tuna se voedingswaarde is goed en wel, maar die selfs goedkoper blikkies sardyne (pilchards) word volgens ons heeltemal te maklik misgekyk. Dit kos amper die helfte minder as tuna, maar gee dieselfde hoeveelheid proteïen (18 g per 100 g-porsie).

Jy kan biltong oral met jou saamdra, en selfs al maak jy nie jou eie nie, is die kans goed jy weet waar om Suid-Afrika se gunsteling- droë vleishappie in die hande te kry. Net 100 g se wildsbiltong het meer proteïen as geblikte tuna.

Weg Ry & Sleep sê

Sardyne is ’n bron van omega 3-vetsure. Dit is beskikbaar in gewone tamatiesous én in ’n rissietamatiesous – jy behoort dus nie verveeld te raak nie.


Iets om aan te peusel

Daardie koekies en beskuitjies is nie net in die laaste klompie dae voor betaaldag soos manna nie. As jy in die knyp is, kan jy hulle in kombinasie met jou gunstelingsmeer geniet én die hongerpyne stil.

’n Groente-ekstrak soos Marmite gee jou ’n stewige vitamien B-inspuiting per 8 g-porsie en grondboontjiebotter skop 4 g se proteïen per 15 g-porsie uit.

Weg Ry & Sleep sê

Grondboontjiebotter se eintlike waarde lê in sy kilojoules – meer as 400 kJ in net 15 g.


Groen, groener, groente

’n Mens se groente moet verkieslik vars wees, maar wanneer dit onmoontlik is, is geblikte groente ’n goedkoper alternatief wat heelwat langer hou as vars groente.

Ingemaakte ertjies sorg vir ongeveer 236 kilojoules per 100 g én heelwat vesel (6,5 g). Geroomde soetmielies bevat effens meer suiker, maar dit is nie regtig sleg vir jou nie en sorg vir min of meer dieselfde aantal kilojoules.

Gebakte boontjies is ’n groot gunsteling, maar dit lyk of mense deesdae eerder ’n drie- of vierboneslaai verkies. Hoe ook al, dit is ’n goeie bron van vesel en proteïen, en kan net so geëet word – én dis geskik vir vegatariërs.


Bronne: fao.orgmyfitnesspal.com; nutritiondata.self.com; nutritionsociety.co.za