Infanta 4x4 het pas sy eerste abbawa bekend gestel. Die Inkunzi (wat in Xhosa “bul” beteken) is ’n kampeenheid wat Infanta agter op die onderstel van ’n enkelkajuitbakkie bou.

Hulle het begin met ’n model wat op ’n Land Cruiser-bakkie se onderstel pas. Hulle doen wel doelgerigte ombouings, sê Jurie Swart van Infanta, en hulle kan die Inkunzi ook op ander vervaardigers se onderstelle laat pas.

Infanta het ’n jaar of twee gelede baanbrekerswerk gedoen met sy middelslag-woonwa, die Enkulu 2, toe ’n uitglybed as deel van die ontwerp gebruik is. Jurie-hulle het dieselfde wenresep in die Inkunzi ingebou, met die uitglygedeelte wat agter die bestuurder se deur pas.

’n Mens slaap dus dwars, direk agter die kajuit, met ingeboude kassies by die koppenent. Dit los ekstra ruimte in die abbawa waar jy onder meer ’n kassettoilet regs van die deur agter kan inpas.

Die yskas staan links van die deur soos jy inklim. ’n Mens kan sien Jurie-hulle staan nie terug vir innovasie nie. ’n Yskas in ’n wa is nie vreemd nie, maar gewoonlik pla dit as dit soos dié een nie op ’n glyraam staan wat jy kan uittrek nie. Jy moet dus alewig in die wa klim om die koue goed by te kom.

Die antwoord is ’n groot deur in die linkerpaneel wat opslaan en vir makliker toegang van buite sorg. Nóg twee deure is in die kombuisdeel ingebou, terwyl die uitvoustort aan die ander kant sit.

Wat is standaard? Onder meer ’n opwipdak (wat met die hand lig), uitglydubbelbed, noodwiel wat onder die bed inpas, ’n 120 l- watertenk, eenplaatgasstoof, 220 V-kragstelsel met ’n laaier asook ’n 102 Ah-battery en 1 kg-brandblusser.

Ekstras Onder meer ’n 5 kg-gasbottel R570; kassettoilet R2 052; 12 V-waterpomp met pype R4 560; 19 l-hoëdrukgeiser R9 120; buitestort R3 249; elektriese dakhysers R9 120; 60 l-Engel-ys-vrieskas R15 390; en ’n 150 W-sonpaneel R8 135. As jy die abbawa dieselfde kleur as jou bakkie soek, is dit ’n verdere R2 280.

Prys R216 600 (standaard) en R284 471 (volledig toegerus).

Kontak 028 512 3663 info@infantatrailers.co.za; infantatrailers.co.za.

Vir meer oor Infanta-4x4 se boswoonwaens, lees die woonwatoets van die Enkulu – Red.


Lees nog nuusbrokkies uit ons Januarie-uitgawe hier!