Pietman Muller van Levubu skryf: Ons het vroeg een oggend van die Satara-ruskamp in die Kruger agter bromvoëls se geroep aangery. Nie ver van die ingangshek af nie was ’n bromvoël doenig by ’n gat in ’n maroelaboom. Eers het ons gedink dat hulle kleintjies in ’n nes voer... maar skielik het ’n muskeljaatkat uit die gat probeer vlug. 

Sy ontsnaproete is onmiddellik deur twee ander voëls versper. Hy het tevergeefs terugbaklei, maar moes uiteindelik weer in die gat terugskarrel. Die bromvoëls het om die beurt die muskeljaatkat in die gat probeer bykom. Ons het later gery en weet nie wat die uiteinde van die geveg was nie.

Ons het gedink die muskeljaatkat wou die bromvoëlnes beroof en is op heter daad betrap. Maar Scott Ronaldson, ’n navorser van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe op Skukuza, het gesê daar is nie ’n bromvoëlnes in die betrokke boom nie. Dis te na aan Satara – hulle sou daarvan geweet het. Scott het wel saamgestem dat die bromvoëls die muskeljaatkat as ’n prooi beskou het.