Tussen gewone mense en versekeringsmaatskappye heers ’n vreemde verhouding. Versekering is soms ’n ongewenste noodsaaklikheid, en jy betaal teen wil en dank die premie.

Soms is die wrok só groot dat jy méér eis as wat jou toekom wanneer die noodlot toeslaan. Daarteenoor is versekeraars nie besonder geesdriftig om jou te vergoed vir jou skade nie. As daar fout is met jou eis, gaan hulle net ’n deel – of selfs niks nie! – uitbetaal.

Die meeste van ons geniet egter ’n gemoedelike verhouding met ons versekeraar. Jy begroot vir die premies en as die ongeluk jou tref, eis jy billik en die versekeraar vergoed jou volledig vir jou skade – dit is in die perfekte wêreld.

Maar as jy ’n 4x4-entoesias is, moet jy waak teen ’n paar slaggate wat kan lei tot ’n bakleiery met jou versekeraar.

Ons het met ’n paar onafhanklike versekeringsmakelaars gesels oor die aard van hierdie slaggate. Volgens die makelaars, wat anoniem* wou bly, bied die meeste versekeraars ’n opsionele en uitgebreide dekking vir viertrekvoertuie, maar hoewel heelparty van hulle klante viertrekvoertuie ry, maak weinig van hulle gebruik van hierdie opsionele dekking.

Maar waarom sou jy aansienlik méér betaal vir opsionele versekering wat onnodig lyk?

“Jy betaal ’n premie wat gegrond is op verskeie onderskrywingskriteria. Ouderdom, geslag, risiko-area, versekeringsgeskiedenis, jou kredietprofiel, voertuigfabrikaat en die waarde van jou voertuig is maar ’n paar voorbeelde hiervan,” sê een makelaar.

As jy ’n viertrekvoertuig gaan gebruik vir 4x4-hindernisbane, is dit belangrik dat jy die opsionele 4x4- dekking oorweeg.

Dit klink aanvaarbaar, want ’n 45-jarige huisvrou agter die stuur van ’n Hyundai is vir enige versekeraar waarskynlik ’n kleiner finansiële risiko as ’n 25-jarige aandelemakelaar in ’n Ferrari.

Die risiko lê nie bloot in die kans op ’n eis nie, maar die geldwaarde van die uitbetaling.

Wat van jou in jou bosbakkie?

“Die probleem met gewone omvattende versekering op viertrekvoertuie is dat baie maatskappye geen dekking bied vir voorvalle wat op 4x4-hindernisbane gebeur nie,” sê ’n ander makelaar.

”Dit is belangrik om te weet dat enige wedren, tydren of veldryuitdaging – insluitende gebruik op 4x4-bane, gimkanas of enige geleentheid wat plaasvind op ’n renbaan – deur ’n versekeraar goedgekeur moet word, of onder die vaandel van ’n motorklub gebeur wat spesifiek deur ’n versekeraar ondersteun word,” volgens ’n makelaar.

Ons bronne is dit eens dat die meeste versekeraars jou tegemoet sal kom as jy ’n billike eis instel, maar as hulle snuf in die neus kry dat jy roekeloos in die bos was, gaan jou eis heel waarskynlik afgewys word indien jy nie die 4x4- versekeringsuitbreiding op die voertuig gehad het nie.

RAMPSPOED. As jou vakansie of naweekpret in vlamme uitbars, wil jy nie sukkel met ’n verseke­ringseis nie.

As jy ’n viertrekvoertuig gaan gebruik vir 4x4-hindernisbane, is dit belangrik dat jy die opsionele 4x4-dekking oorweeg. Hierdie dekking maak voorsiening vir skade wat jy op nie-standaardpaaie kan oorkom. Dit bied ook ’n verskeidenheid ander voordele, soos herwinning as jou sportnutsvoertuig op ’n Kalahari-sandduin vassit, én hulle sal jou in buurlande ondersteun – sê nou maar as jou bosbakkie in die Kunenerivier op sy dak beland of in Maputo gesteel word.

“Versekeraars vereis dat jy hulle laat weet vóór jy op vakansie na ’n buurland vertrek wat nie outomaties onder die grondgebiede van die polis ingesluit is nie, anders gaan hulle nie ’n eis goedkeur óf jou daar help as jy in die moeilikheid beland nie.

"Die grondgebiede van die onderskeie versekeringspolisse word gewoonlik aangedui in die algemene voorwaardes van die polisbewoording,” sê die makelaars.

Ons het na twee gewilde versekeraars se 4x4-dekkingspakkete gekyk: Santam se 4x4-versekering en Outsurance Out-in-Africa.

Albei versekeraars sal jou in altesame 14 Afrikalande buite Suid-Afrika ondersteun. Albei dek jou teen meganiese probleme en albei bied geldelike vergoeding in die geval van beserings of sterfte in ’n buurland of op ’n 4x4-hindernisbaan.

Outsurance se polisbewoording is duideliker as Santam s’n en dit blyk dat hulle nié gaan betaal as ’n burgeroorlog uitbreek en vryheidsvegters jou trokkie vol gate skiet nie. Hulle dek ook nie voertuie wat vir meer as ses maande uit die land is nie.

Ons gaan nie die beste 4x4-polis vir jou voorstel nie; dít is jou versekeringsmakelaar se werk, maar wat ons baie duidelik moet stel, is dat jy jou bedoelings met jou viertrekvoertuig móét verklaar, selfs al is dit iets onskuldigs soos jou jaarlikse hengelvakansie op Hentiesbaai – maar verál as dit effens uitdagender is, soos deelname aan jou 4x4-klub se maandelikse saamtrek.

Want as jy doodgewone versekering uitneem, gaan jy slegs doodgewone dekking hê.

Geskiedenis
Geskiedenis
Vra die professor

Het jy ’n kwelvraag vir die 4x4-professor? Iets soos: Gaan my lisensiegeld styg as my bakkie swaarder word as gevolg van al daai ekstra 4x4-onderdele wat ek laat aanbring het?