Sportnutsvoertuie word net al hoe gewilder, veral kompakte sportnutse, en voertuigvervaardigers slaan munt uit rygoed soos die Hyundai Tucson en Kia Sportage.

Maar as jy kans sien om ’n ekstra paar pitte uit jou beursie te skud kan jy luukser sportnutse soos die Mercedes-Benz GLA, BMW X2, Audi Q3 en nou ook die Jaguar E-Pace oorweeg.

Daar is twee enjinopsies: Turbodiesel en turbopetrol, wat elk verder opgedeel is in verskeie modelle volgens kraglewering- en afwerkingsvlakke. Die basismodel is die D150 diesel (110 kW, 380 Nm) en die topmodel ’n petrolgedrewe P300 HSE (221 kW, 400 Nm).

Buitelangs

Die E-Pace is in wese ’n klein F-Pace, hoewel Jaguar verkies om dit as ’n unieke produk te bemark. Die E-Pace gebruik Jaguar-Land Rover se D8-platform (onderstel, vering, asse) wat ook ’n basis vorm vir die Range Rover Evoque en Land Rover Discovery Sport. Buiten dat hy soos ’n klein F-Pace lyk, is daar ook stilistiese ooreenkomste met die lieflike Jaguar F-Type, veral die traanvormige syruite.

BLOUOOGMEISIE. Die Pirelli P Zero-bande is nie juis geskik vir grondpaaie nie, maar hulle is tjoepstil op ’n snelweg. Jy kan ook 21”-wiele laat aanbring, maar dan kan jy glad nie grondpad ry nie.

Binnelangs

Die binneruim herinner sterk aan die Jaguar XE-sedanmotor, net ’n bietjie knusser. Beenspasie voorlangs is gaaf, maar die agtersitplekke het ’n tekort daaraan. As Ma of Pa lang bene het, gaan die kinders op die agterbank kort voor lank begin kerm.

Die bagasieruim is verbasend groot (577 l) as ’n mens die E-Pace se kordater afmetings in ag neem, en jy kan ’n gholfsak mét stokke dwars inlaai.

Die E-Pace het vyf USB-sokke om elektronika te laai en ’n wifi-sone waaraan agt slimfone kan aanmeld. Daar is ook talle apps soos Spotifi, Stitcher, Tile en Glympse op die ritrekenaar. Moenie sleg voel as jy so min dáárvan weet as ’n kat van saffraan nie. Die E-Pace is ontwerp vir millenniërs wat onlangs goeie geld begin maak het en hulleself wil beloon.

KAATJIE VAN DIE BAAN. Die reuseraakskerm en netjiese stikwerk in die leerbekleedsel is deftig, maar dis die instrumentepaneel wat óm jou krul wat die meeste beïndruk.

Só ry hy

Dis tjoepstil binne die E-Pace, selfs terwyl jy ry. Wanneer jy die petrolpedaal trap, is daai kenmerkende Jaguar-grom ongelukkig vervang met ’n bedeesde bromgeluid.

Versnelling is bevredigend, veral met die P300-topmodel, maar daar is tog ’n lastige tydjie van ’n paar millisekondes vandat jy voet in die hoek sit totdat daar iets gebeur. Dis asof die ratkas eers ’n bietjie dink of hy na jou moet luister of nie. Wanneer hy wel reageer, verloop dinge vinnig.

In dié verband is die Mercedes GLA en Audi Q3 se ratkaste beter. Die stuurwiel is nie so sensitief as met ’n Alfa Romeo-produk nie.

Ons sou die stuuraksie beslis nie as vaag beskryf nie, maar ’n mens verwag dat hierdie buksie vinniger van rigting sou kon verander. Dalk is dit beter so, want direkte stuuraksie in die hande van ’n groentjie is moeilikheid soek.

Hoewel die E-Pace allewielaangedrewe is, sluit die ritmodus-programmatuur nie ’n veldrymodus in nie. Dit pla nie regtig nie, want jy koop uiteraard nie ’n Jaguar om bosse plat te stoot nie.

Slotsom

Die goedkoopste E-Pace kos R598 500, wat heel billik is vergeleke met sy mededingers, maar as jy slegs ’n handjie vol basiese ekstras byneem, soos gekleurde bakverf, 19”- eerder as die standaard-17”-bande, leerbekleedsel en vloermatjies, gaan hy minstens R50 000 meer kos.

As jy die P300-model met ál die ekstras neem, kan jy tot R1 143 800 betaal.

Kyk die kat dus eers goed uit die boom voor jy teken, want ander luukse vervaardigers bied sekere katoeters standaard aan – BMW sal jou byvoorbeeld nie ekstra geld vra vir metaalvlokverf nie. ’n Audi Q3 is ook goeie waarde vir geld, al is hy nie so windgat soos die E-Pace nie.

SPESIFIKASIES

Model getoets Jaguar E-Pace P300 HSE

Enjin 1 998 cc-viersilinder-turbopetrol

Krag 221 kW @ 5 500 r.p.m.

Wringkrag 400 Nm @ 1 200 r.p.m.

Ratkas 9 spoed-outomaties

Brandstofverbruik 8 l/100 km

CO2-vrystelling 18 g/km

Tenk 68,5 l

Bagasieruim 577 l

Maksimumsleepgewig 1 800 kg

Tarragewig 1 894 kg

Topsnelheid 243 km/h

Versnelling (0-100 km/h) 6,4 s

Prys R1 042 300