ZIES VAN ZYL van Vanderbijlpark skryf:

Ek en my vrou, Tina, het die Kgalagadi-oorgrenspark onlangs die eerste keer besoek.

Ons het hierdie leeuwyfie opgemerk wat ’n paar blouwildebeeste naby die Kij-Kij-watergat bekruip. ’n Jakkals het nader gedraf, onbewus van die leeu. Die leeu het wel die jakkals gewaar en dadelik haar aandag op dié besoeker gefokus. Binne ’n oogwink het die leeu die jakkals bestorm en met sentimeters gemis. Sy het die jakkals tevergeefs agternagesit: Jakkals: 1 en leeu: 0.

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Leeus beskou alle ander roofdiere – groot of klein – as kompetisie. Verder blyk dit ook dat sekere individue ’n korter lont het met kompetisiespesies.

Ek dink nie dié leeuwyfie se optrede het met kos te doen gehad nie. ’n Ander moontlikheid is dat daar leeuwelpies in die ronde was wat kon maak dat sy so erg kwaad geraak het.


Lees verder: Ons kenners beantwoord nog lesersvrae hier!