Hy het nog nie ’n naam nie, maar gaan glo kleiner as die Renegade wees – omtrent dieselfde grootte as Suzuki se Jimny.

“Die motor kan gebruik word as ’n hardekoejawel-Jeep, maar hy’s ook ontwerp vir alledaagse gebruik,” sê Marco Pigozzi, die maatskappy se Europese hoof van bemarking.

Pigozzi het voorts gesê die samesmelting van Fiat-Chrysler met Peugeot-Citroën beteken daar sal groter klem gelê word op omgewingsbewustheid.

Volgens hom het Fiat-Chrysler nie ’n klein platform vir die kompakte Jeep nie, en daarom is die kans goed dat Peugeot-Citroën tegnologieë uit sy kordater Peugeot 208 of Citroën DS3 Crossback sal skenk as deel van die samesmeltingsooreenkoms.

Jeep se internasionale hoof, Christian Meunier, het op ’n onlangse sakegeleentheid gesê Jeep moet die “groenste sportnuts-handelsmerk ter wêreld” word, en die nuwe hibriede Jeeps kan “die beste Jeeps nóg” wees. Volgens Meunier gaan álle Jeeps van 2022 af gedeeltelik of volledig elektries wees.