Die Tafelberg-sweefspoormaatskappy is gereed om weer besoekers van Dinsdag 1 September af te verwelkom ná die aankondiging van vlak 2-regulasies. 

“Suid-Afrikaners sal nou weer die geleentheid hê om een van ons land se natuurskatte te geniet, net betyds vir toerismemaand! Ons wil graag hê dat elke besoeker ’n wêreldklas-ervaring geniet,” sê Wahida Parker, die sweefspoorweg se uitvoerende hoof. “Ons sal die gesondheid en veiligheid van ons gaste en personeel verseker.”

’n Maksimum van 26 mense sal op een slag in die sweefspoorkarretjie toegelaat word om sosiale afstand te verseker en maskers sal verpligtend wees. Die sweefspoorkarretjie sal ná elke rit ontsmet word; asook elke dag deeglik skoongemaak word. Handreiniger sal by albei sweefspoorstasies beskikbaar wees.

Die kafee bo-op die berg sal oop wees (vir tee, koffie… asook wyn en bier!). Die besoekersentrum is ook oop, waar jy toebroodjies en wegneemetes kan koop. 

Oop: 8 vm.-3 nm., Ma.-So. 

Koste: R360 vir ’n retoerkaartjie (R190 per kind), R200 vir ’n eenrigtingkaartjie (R100 per kind). R100 per retoerkaartjie vir pensioentrekkers (R50 vir ’n eenrigtingkaartjie). 

Geen fisieke kaartjie sal uitgereik word nie – koop jou kaartjie aanlyn by www.tablemountain.net.

Lees nog vrae en antwoorde hier.