foto’s Helenus Kruger
Kaart van Kyleu-boskamp

Die Dinokeng-reservaat het die laaste klompie jaar om twee redes ’n gewilde naweek- en vakansiebestemming geword: Eerstens is die Groot Vyf hier te sien en tweedens kan Gautengers hulle omtrent binne ’n oogwink hier kom aanmeld.

Dit is die enigste Groot Vyf-reservaat in die land wat in ’n metropolitaanse gebied geleë is, en sedert die opening daarvan in 2001 is hier nie net ’n groeiende aantal toeriste nie, maar ook diere. Jy begin al diere sien sodra jy deur die hek is, sommer so langs die teerpad.

Hou dus jou verkyker en kamera gereed, want jy weet nooit wat jy dalk mag raakloop nie. Dit is in dié wêreld waar Devon en Sherri Symons die Kyleu-boskamp ontwikkel het – een van net ’n handjie vol kampplekke waar jy jou tent in ’n onomheinde kampplek binne die reservaat kan opslaan. (Kyleu is ’n samevoeging van die name van Devon en Sherri se twee seuns, Kyran en Leuan.)

Devon, ’n vlieënier van beroep, het voorheen ’n jaar lank in Botswana gewerk. Hy het heelwat met toeriste te doen gekry en vinnig gesien wat hulle behoeftes is.

Die saadjie vir ’n kampbestemming is hier geplant, en kort voor lank het die geleentheid hom voorgedoen om ’n stukkie grond in Dinokeng te bekom. Kyleu het amper ’n jaar terug die lig gesien.

Hardebaard óf sagtebaard

Kyleu het ses staanplekke in die boskamp en drie by die rivierkamp. Die staanplekke by die boskamp lê ’n entjie weg van mekaar, en hoewel jy van sekere staanplekke af jou bure net-net kan sien, gee die veldgras, bome en bosse tussenin ’n bietjie privaatheid.

Wanneer ’n mens die woord “boskamp” hoor, duik die beeld van ’n puttoilet onwillekeurig by jou op, maar hier is dit allermins die geval, want elke staanplek het sy eie badkamer met lopende water, ’n gasgeiser, stort en daardie immerbelangrike spoeltoilet.

Jy het ook ’n vullisdrom op jou staanplek én ’n braaier met ’n rooster. Jy kry selfs ’n komplimentêre sakkie sekelboshout. Hier is egter nie elektrisiteit nie en jy moet jou sonpanele bring of jou koelboks vol ys hou om jou tjoppies en kaas en drinkgoed koel te hou.

Die ronde staanplekke word omring deur veldgras en bome, en wissel in grootte – die kleinste is sowat 25 treë in deursnee. Die aangeplante LM-gras het nog nie die hele staanplek vol gegroei nie en daar is heelwat oop grond tussenin.

Elke staanplek het minstens een boom, maar van hulle is nog te klein vir noemenswaardige skaduwee, terwyl ander op die grenslyn van die staanplek is en nooit koelte oor jou kampplek gaan gooi nie.

Wilder kry jy nie. Die kampplek het nie ’n heining om om die wilde diere van jou slaapplek af weg te hou nie. Dis gaaf om die diere sommer by jou kampplek te sien, maar ’n mens moet maar ligloop as vuilbaard verbykom.

By almal het jy darem ’n skaduplekkie waar jy kan sit. Staanplek nr. 4 is die kleinste van die staanplekke. Hier gaan jy net een wa kan inpas. Met al die bome reg teenaan is dit lekker privaat.

Nr. 5 lê ’n entjie eenkant en jy kan jou boswa tussen twee bome aan die kant van die staanplek inpas. Hier kry jy vroegoggend en laatmiddag skaduwee. Hier is genoeg plek vir ’n tweede wa, maar dié gaan in die son staan.

Staanplek nr. 2 het die minste privaatheid en geen koelte nie, en nr. 3 het een groot boom waaronder jy in die namiddag kan sit. Die staanplek is, soos nr. 1, groot genoeg vir twee boswaens.

Dis nie ’n goeie plan om saans in die kamp rond te loop nie. Onthou, dit is Groot Vyf-wêreld dié en daar was al leeus in die kamp. Ry maar eerder as jy en vriende saans oor en weer wil kuier.

Hoewel die staanplekke genommer is, is daar nie bordjies waarop dit aangedui word nie. Devon sê hy beplan om in die nabye toekoms nog staanplekke uit te lê en die pleknommers kan dalk verander.

Vir die hardebaarde wat toegerus is om selfversorgend te kamp is hier drie rivierstaanplekke. Dit kyk af op die Kaallaagtespruit en is net ’n oop stuk veld met geen geriewe nie. Jy moet alles wat jy nodig het, saambring en ook jou vullis saamneem wanneer jy oppak.

Dié plekke, wat heelwat groter is as die boskampstaanplekke, is sowat 100 m weg van die boskamp en lê op laer grond, wat beteken jy en die mense in die boskamp sien mekaar glad nie. Die rivierkamp se eerste twee staanplekke lê langs mekaar en jy moet kies tussen privaatheid of skaduwee.

Albei het groot bome vir oggend- en middagskaduwee, maar jy het net sowat 40 m oop veld tussen jou en jou buurman.

By staanplek nr. 3, wat ’n hele ent weg is, is die enigste boom op die staanplek nog klein en die son gaan jou looi as jy nie ’n afdak het nie. Die lekkerte van dié plek is dat jy jou eie toegangspaadjie en net die veld en spruit om en voor jou het. Die spruit is nie standhoudend nie en kom net af as daar ’n goeie reënbui uitsak. Jy kamp egter op hoër grond en is ’n entjie weg.

Stortsake

Die boskamp se ablusiegeriewe – met sinkwasbakke, koperpype teen die mure en stopkrane – is iets tussen bossjiek en rustiek.

Die geboutjie met sy grofgepleisterde mure het ’n sinkdak en die ligte bruingrys mure laat dit goed by die omgewing inpas. Die kans dat ’n rooibok of blouwildebees vir jou gaan loer terwyl jy stort, is baie goed – daar is ’n oop spasie van 40 cm tussen die muur en die dak.

Die badkamer is binne 2,2 x 2,3 m groot met die storthokkie wat amper die helfte van dié oppervlakte beslaan. Hier is nie ’n deur of gordyn by die storthokkie nie, maar dit pla ’n mens glad nie, want die droë kant bly danksy die groot stort droog.

Binne die stort is ’n houtrakkie waarop jy jou seep kan sit, en jou handdoek kan jy aan die koperpyphakie by die stort se ingang hang.

Die sinkwasbak is op ’n houtoppervlak wat aan ’n tou van die muur af hang. Bo die wasbak is ’n spieël en by die toilet ’n vullisdrom en toiletpapier. Twee 12 V-LED-liggies, een binne en een buite by die opwasgedeelte, sorg vir lig.

Die skottelgoedwasplek is aan die buitekant van die badkamer en bestaan uit ’n wasbak en houtblad. Die gasgeiser sit in die hoekie en aan die buitekant van die gebou is die brandslang – ingeval ’n vonkie die veld aan die brand steek.

Soek die Groot Vyf

Dinokeng het ’n netwerk van sowat 120 km se wildpaadjies op die selfryroete. Die grootste gedeelte hiervan is geskik vir sedanvoertuie, en dit is net in die oostekant van die reservaat waar jy ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte nodig het.

Waar’s die sebrastrepe? Hou jou oë oop as jy op die groter paaie in Dinokeng ry. Die wilde diere kry voorrang en kan enige oomblik uit die niet verskyn en oor die pad loop.

Die roetes is duidelik gemerk en met die roetekaart byderhand sal jy nie sommer verdwaal nie. Daar is ’n betonbaken met ’n nommer by elke punt waar paaie by mekaar aansluit. Die nommers word ook op die kaart aangedui en daarom kan jy maklik bepaal waar op die roete jy tans ry.

Die paadjies sluit gereeld by die groot paaie in die reservaat aan en jy kan kortpad vat kamp toe as dit moet. Jy kan ook ’n mandjie pak en by een van die piekniekplekke stilhou of gaan eet by een van die lodges wat vir dagbesoekers oop is.

Hier is heelwat wild in die reservaat en jy sien gereeld swartwildebeeste, rooibokke, koedoes, sebras en kameelperde. Vir die Groot Vyf gaan jy geduldiger moet wees en goed rondkyk. Die drie troppe leeus het elk hulle eie gebied waarin hulle beweeg.

Volgens Devon word die luiperds min gesien, maar jy het darem ’n beter kans om van die sowat 70 buffels te siene te kry. Hier is ook swart- en witrenosters én jagluiperds.

Die selfryroete kos R250 p.d. per voertuig vir tot 10 mense. Devon-hulle kan sommer dié bespreking vir jou doen wanneer jy die verblyf bespreek. Onthou om die permit saam te neem wat hulle vir jou gee wanneer jy gaan ry.

Kyleu bied ook ’n begeleide wildrit aan. Dit duur 2½-3 uur en kos R175 p.p. (R85 vir kinders o.12; gratis vir o.6’e).

Dinokeng se eie mall

Jy kan hout (R20) en ys (R10) by Kyleu koop, maar vir enigiets anders moet jy na die Safari Mall, sowat 7 km weg, ry. Hier kan jy voorrade aanvul by die klein supermarkie, slaghuis en drankwinkel.

Kortliks | Kyleu-boskamp

Kampplek Jy het ’n keuse tussen die boskamp met private ablusiegeriewe en staanplekke waar jy selfversorgend moet wees.

Ablusiegeriewe Privaat met warm water, stort en toilet. Of bring jou eie stort as jy by die rivierkamp staan.

Prys Boskamp R120-R200 p.p.p.n. afhangend van die seisoen; rivierkamp R110 p.p.p.n. (R100 vir pensioentrekkers, slegs in die week en buite seisoen). Die bewaringstarief vir Dinokeng is R40 p.p.p.d. (R25 vir kinders).

Aankoms- en vertrektyd Binne seisoen 2 nm. en 12 nm.; buite seisoen 2 nm. en 2 nm. Jy kan wel reël om later te vertrek (as niemand ná jou inkom nie).

Hoe lyk die pad? Snelweg tot by die Hammanskraal-afrit; daarna ’n goeie teerpad in die reservaat met die laaste 2 km na die kamp ’n grondpad wat effens sinkplaat gery is.

Kontak  060 458 4478;  kyleu.co.zainfo@kyleu.co.za

GPS S25.372028 E28.356116 (afdraai van die Kaallaagtepad) S25.372044 E28.356121 (ontvangskantoor)

Weg Ry & SleepIn die somer kan jy die kinders se opslaanswembadjie saambring. Devon sal dit volmaak en aan die einde van jou kamp weer leegtap en die water in hulle gryswatertenk laat loop.