Dis amper Kersfees en ons weet maar alte goed hoe dit voel om voor te gee jy is bly oor die sokkies, sakdoeke, gholfballe of pen-en-potloodstel wat onder die boom vir jou wag, terwyl jy eintlik ’n splinternuwe kampstoel, stapskoene of daardie baie nuttige sonpaneel wou gehad het.

Daarom het ons vanjaar met Outdoor Warehouse saamgespan om ’n klompie van ons lesers te bederf en sommer ook dankie te sê vir hulle getroue ondersteuning.

Ons het op ons Facebook-blad gevra dat hulle op Outdoor Warehouse se webtuiste moet gaan rondsnuffel vir die Kersgeskenk wat hulle régtig wil hê en dit vir ons deur te stuur. Ons opregte dank aan Outdoor Warehouse wat ons help om dié groepie lesers se somervakansie op te kikker.

Geseënde Kersfees!


GARMIN DRIVE 40LM

Waar ry jy rond?

Willie Gummow van Port Elizabeh sê Ons beoog om van die einde van die jaar af in die pad te val en al die wonderlike bestemmings te sien waaroor ons in Weg Ry & Sleep lees. Met ’n ordentlike GPS sal ons nie per ongeluk ’n verkeerde afdraai neem nie.

Hierdie GPS-toestel is maklik om te gebruik, en danksy sy groot skerm en helder grafieke gaan jy sukkel om die pad byster te raak. Hy het ’n hele reeks katoeters en kom vooraf gelaai met gedetailleerde kaarte van Suider-Afrika wat jy boonop gratis kan opdateer.

Hy help soek vir plekke van belang, hou jou in die regte baan by ’n groot wisselaar, en waarsku selfs as daar ’n verkeerskamera op jou pad is.

Prys R1 899 

Weg Ry & Sleep sê
Julle kan julle reise begin beplan, Willie. Met dié Garmin gaan julle nie maklik verdwaal nie.


NATURAL INSTINCTS-LEUNSTOEL

Sit terug en ontspan

Ronelle Ehlers van Witbank sê Ek en my lewensmaat is lief vir kampeer, maar my kampstoel is al oud en afgeleef. Ek sien sommer voor my geestesoog hoe ek iewers in die Bosveld in dié gemaklike stoel sit en heerlik ontspan...

Die Natural Instincts-leunstoel se sitplek is opgestop vir ekstra gemak en het selfs ’n verwyderbare kussing vir wanneer jy ’n vinnige uiltjie wil knip onder jou stoeptent.

Sy stewige raam word van staal gemaak en hy het ’n dragewig van tot 120 kg.

Prys R1 399 

Weg Ry & Sleep sê
Ronelle, hier is vir jou ’n Natural Instincts-leunstoel vir Kersfees. Geniet hom!


CAMPMOR-SKOTTELGOEDSTAANDER

Vinnig en maklik

Gerda Slabber van Bloemfontein sê Ek wil baie graag een van hierdie skottelgoedstaanders hê. Ek gebruik tans ’n skottel op ons kamptafel, maar my rug raak vinnig seer. Dié staander is hoër en sal my lewe in die kampplek baie makliker maak.

Hierdie opvouopwasplek is nommerpas vir kampeerders wat verkies om hulle skottelgoed by hulle staanplek te was. Hy het plek vir twee skottels en ’n afdroograk en hy staan danksy die sterk staalraam hoog en stewig.

Prys R899 

Weg Ry & Sleep sê
Gerda, jy kry dié skottelgoedstaander. Outdoor Warehouse gee ook vir jou twee skottels én die afdroograk. Geluk!


TRAILBOSS-BANDDRUKMETER

Hoe styf is hy?

Henriëtte Bright van Stellenbosch sê Ek wil graag dié Trailboss-banddrukmeter in my Kerskous hê pleks van room en sepies. Dié meter is al sedert 2015 op my kooplysie, want dit sal wonderlik wees as ek my bande moet afblaas terwyl ek ons mooi land se grondpaaie aandurf.

Met die Trailboss-banddrukmeter kan jy moeiteloos die lugdruk in jou ryding se bande meet en dit afblaas, indien nodig. Hy word van puik materiale gemaak en is nét die ding vir iemand wat verkies om die agterpaaie te verken.

Prys R199 

Weg Ry & Sleep sê
Jy hoef nie langer te wag nie, Henriëtte. Hier is vir jou sommer twee Trailboss-banddrukmeters. Ry veilig! 


ADIDAS TERREX AX2-STAPSTEWELS

Dapper stapper

Timothy Burdett van Bellville sê Ek beplan om volgende jaar in die Visriviercanyon te gaan stap, en dié stewels is presies wat ek nodig het. Adidas verstaan ’n ding of twee wanneer dit kom by die maak van skoene.

Die Terrex AX2-stapstewels is aan die snykant van tegnologie – hulle is lig en buigsaam en die slim kombinasie van materiale sorg dat dit terselfertyd “asemhaal” én waterdig is. Dit bied ook goeie ondersteuning om jou enkels en is uiters gemaklik.

Prys R1 999 

Weg Ry & Sleep sê
Bespreek jou plek in die suide van Namibië, Timothy. Jy kry ’n paar stapstewels.


NATIONAL LUNA-DUBBELBATTERYSTEL

Vat jou krag saam

Hardus Oberholzer van Witbank sê Ek is naby aftrede, en wanneer ons met pensioen gaan, wil ons graag op plekke gaan kamp waar daar nie krag is nie. Daarom sal ek graag die National Luna-dubbelbatterystel wil hê.

Dié stel van National Luna bevat alles wat jy nodig het om ’n dubbelbatterystelsel in jou wa of veldryer te installeer. Dit sluit alles in van jou dubbelbattery-isoleerder en -beheermonitor tot swaardienskabels, smeltdrade, kabelstroppe en skroewe.

Prys R2 100 

Weg Ry & Sleep sê
Nou kan julle maar die langpad aandurf en op afgeleë plekke gaan kamp, Hardus. Jy kry só ’n stel onder die Kersboom. Baie geluk!


NATURAL INSTINCTS EASY-PITCH GAZEBO

Koelte in jou kattebak

Rudolf Weyers van Alberton sê Ons gaan vir ’n klompie dae by Skukuza kamp en hierdie gazebo sal ’n welkome lafenis wees in daardie hitte. Hierdie Deluxe-gazebo het ’n geïntigreerde staalraam wat as ’n eenheid moeiteloos op- en afslaan.

Jy sukkel dus nie om ’n klomp pale te meet en pas nie. Die dakseil is van waterbestande swaardiens-poliëstermateriaal en die hele besigheid pas netjies in ’n sak met wieletjies om hom maklik te kry waar jy hom wil hê.

Prys R2 599 

Weg Ry & Sleep sê
Julle hoef nie meer vir die Kruger se berugte hitte te skrik nie, Rudolf. Jy kry só ’n outjie present.


NATURAL INSTINCTS REFLECTO-BLINKSEIL

Sê die son die stryd aan

Hester du Raan van Bloemfontein sê Dit sal darem baie lekker wees as ons só ’n blinkseil kan kry om ons kampwa en tent koel te hou in die warm son. Die Reflecto-blinkseil van Natural Instincts word van materiaal gemaak wat UV-bestand is – dit beteken natuurlik jy kan sake in die wa of tent aansienlik afkoel.

Hy is 5,6 x 4,8 m groot met ’n ogie elke meter langs sy versterkte some af. Dit beteken jy kan hom behoorlik vastrek wanneer ’n rukwind deur die kampterrein waai.

Prys R1 419 

Weg Ry & Sleep sê
Die hitte is nie meer ’n probleem vir julle nie, Hester. Hier is vir julle só ’n blinkseil.


NATURAL INSTINCTS-OPVOUKOMBUIS

Alles op een plek

Jacques van Wyk van Centurion sê ’n Ordentlike kampkombuis soos dié sal ons lewe sommer baie makliker maak. Dié nuttige ontwerp van Natural Instincts sorg vir ’n volledig toegeruste kombuis op jou staanplek.

Jy het ’n tafelblad waarop jy kos kan berei, ’n skottel waarin jy die vuil borde en glase kan was, ’n hoë staander vir jou kamplig, hakies vir lappies, ’n draadrakkie vir spesery- en sousbotteltjies, ’n onderste rak met bêreplek vir potte en panne, en ’n nuttige vullissak.

Prys R1 299 

Weg Ry & Sleep sê
Hier’s vir julle ’n opvoukombuis vir Kersfees, Jacques. Lekker kamp en kosmaak! 


TRAILBOSS 2 000 W-KRAGOMSKAKELAAR

Krag op jou vingerpunte

Dirk van der Merwe van Centurion sê Ons hou gewoonlik by die see vakansie en bring altyd soveel as moontlik vars seekos terug Gauteng toe. Met só ’n omskakelaar hoef ons nie bekommerd te wees oor oornagplekke se kragtoevoer nie en ons kan die waardevolle seekos met groter gemoedsrus saamkarwei huis toe.

Jy koppel hierdie omskakelaar aan jou ryding se 12 V-kragtoevoer en hy skop vir jou 230 V uit aan die ander kant. Hy het ingeboude beskerming vir wanneer die kragtoevoer wisselvallig is én teen kortsluitings. Hy het selfs ’n USB-sok waarmee jy jou slimfoon kan laai.

Prys R3 699 

Weg Ry & Sleep sê
Julle kan maar die seekos laai, Dirk. Met dié omskakelaar van Trailboss sal julle dit veilig van die kus tot by die huis kry.


SETSOLAR-105 W-SONPANEEL

Kragdadig

Jomarie Willemse van die Weskus sê Met Tietiesbaai en Trekoskraal op ons agterstoep verkies ons dit om selfonderhoudend in die veld te kamp. ’n Sonpaneel sal ’n gawe Kersgeskenk wees.

Die 105 W-sonpaneel van SetSolar sorg vir 18 V-krag teen ’n stroom van amper 6 A. Hy is 1 000 x 670 mm groot, het ’n 35 mm-raam van silwer geanodiseerde aluminium en weeg 8 kg. En jy kry ’n waarborg van 10 jaar.

Prys R1 699 

Weg Ry & Sleep sê
Veld toe met julle, Jomarie! Outdoor Warehouse gee vir julle een van dié sonpanele present. Geseënde Kersfees!


TRAILBOSS-3 W-ALUMINIUMFLITS

Om beter te kan sien...

Jaun Labuschagne van Pretoria sê Ek wil asseblief hierdie flits hê vir Kersfees. Ek hoop ek is een van die gelukkiges. Hierdie kompakte flits van Trailboss weeg maar 127 g, maar sy ligstraal skyn 120 lumens sterk en 80 m ver. Hy het drie verstellings, en op die laagste een hou sy drie AAA-batterye 8 uur lank.

Prys R199 

Weg Ry & Sleep sê
Jy is inderdaad een van die gelukkiges, Juan. Hier’s vir jou ’n flits.


NATURAL INSTINCTS-360 ml-DUBBELWAND-WYNBEKER

Skink ’n wyntjie

Monique van Vuuren van Bloemfontein sê Hoe hou jy ’n vrou wat lief is vir kamp op haar gelukkigste? Jy gee vir haar ’n wynglas wat sy nie met muggies hoef te deel nie.

Hierdie wynbeker word van vlekvrye staal gemaak en het plek vir 360 ml vog. Sy dubbele wande isoleer die wyn in die glas en hou dit koel. Jy kry ook die deksel om te keer dat goggas in jou drankie beland.

Prys R259 

Weg Ry & Sleep sê
Gesondheid, Monique. Jy kry ’n stel van vier glase.


Al die produkte is by Outdoor Warehouse beskikbaar. Vir meer inligting en nog produkte gaan na die webwerf outdoorwarehouse.co.za.