Die Baboon Spider Atlas-projek gebruik kenners én gewone belangstellendes se hulp om navorsing oor Suider-Afrika se bobbejaanspinnekopspesies te doen. Ons weet eintlik nog min oor dié agtpotiges – daar word gereeld nuwe spesies ontdek en baie spesies se verspreidingsgebiede is nog onbekend.

Die Afrika-lede van die tarantula-familie word bedreig deur habitatverlies en omdat hulle onwettig gevang word en as troeteldiere verkoop word. (Ek wil asseblief nié een vir Kersfees hê nie. – Red.)

Deur foto’s te neem, op te laai en aan te dui waar jy een gesien het, help jy om dié “atlas” in te kleur. Navorsers gebruik die inligting om die spesies beter te bewaar.

Help só

1. Soek ’n Gogga: Die meeste bobbejaanspinnekopspesies bly in ’n tonnel in die grond van 20 cm tot 30 cm diep, en ander bly onder klippe.

Kyk by baboonspideratlas.co.za hoe lyk nog sulke openinge. Die spinnekoppe kom in ’n verskeidenheid habitatte voor.

Onthou: Dis onwettig om bobbejaanspinnekoppe sonder ’n permit aan te hou. Moenie klippe omkeer, gate grawe of die omgewing versteur wanneer jy so ’n spinnekop in ’n reservaat of park sien nie.

2. Neem ’n foto: Wees dapper en neem 1-3 duidelike foto’s van die spinnekop – die kenners het soveel as moontlik detail nodig om die spesie uit te ken. Neem uit ’n paar hoeke, maar die belangrikste is reg van bo af, en van die kant af teen ’n hoek van 45°. Probeer die foto neem met die bene uitgesprei en nie opgebondel nie – die voorste bene is veral belangrik om mannetjies te identifiseer.

Die projekwebblad het wenke hoe om die spinnekop uit sy gat te lok. Moenie die gat oopgrawe om by die spinnekop uit te kom nie.Die spinnekop kan nie vinnig ’n nuwe een bou nie en dan is hy of sy uitgelewer aan die elemente en roofdiere.

3. Laai jou foto op: Vul die besonderhede in op die webblad. Die datum en ligging is belangrik (GPS-koördinate, as jy dit aangeteken het, of met behulp van die kaartfunksie op die blad).

Nog inligting baboonspideratlas.co.za