foto’s Leon Botha

Net soos met die Ranger-bakkies het Ford se veelbesproke nuwe 2 l-enjin nou ook die leisels oorgeneem as vlagskipmodel by die Everest-reeks.

Hier om te bly

Ford se fokus is heel duidelik nou op die nuwe enjin: Van die ses beskikbare Everest-modelle het drie die 2 l-dubbelturbodieselenjin, een die 2 l-enkelturbo, terwyl net een model elk oor die 2,2 l- en 3,2 l-enjin beskik.

Wat kraglewering betref, oorskadu die dubbelturboenjin die ander twee: die 2,2 l en 3,2 l lewer onderskeidelik 118 kW en 147 kW (met onderskeidelik 385 Nm en 470 Nm wringkrag), terwyl die nuwe enjin spog met 157 kW en 500 Nm. Dié syfers word ook in die verbeterde brutokombinasiemassa (BKM) van die nuwe enjin én sy sleepvermoë weerspieël.

Die BKM van die 2,2 l en 3,2 l is onderskeidelik 5 700 kg en 5 800 kg, terwyl die nuwe enjin s’n 5 900 kg is. Dit geld ook vir die enkelturbo, maar dié model boet wel ’n bietjie van sy sleepvermoë in. Sy 3 000 kg stem ooreen met die ouer modelle se syfer, terwyl die nuwe enjin 3 100 kg kan baasraak.

Hoe verskil die brandstofverbruik?

Ford sê die nuwe enjin het ’n verbruik wat tot 9% beter is. Dis gegrond op wat hy noem “ware bestuursiklusse”. Dit mag dalk waar wees, maar nie wanneer ’n mens sleep nie.

In twee vorige sleeptoetse met Everest-modelle – ook in hierdie een – het ons toevallig ’n soortgelyke Jurgens Xplorer van 1,3 t gesleep. Dit is dus maklik om die syfers te vergelyk. Die nuwe enjin was die swaarste van die drie met ’n verbruiksyfer van 16 l/100 km (6,2 km/l) teenoor 15,1 l/100 km (6,6 km/l) van die 3,2 l en die 2,2 l se 13 l/100 km (7,7 km/l).

Gebou vir sleep

Die sleepstang is standaard op al die modelle, en as jy agter die Everest staan, kan jy sien die bakwerk is rondom die sleepstang ontwerp. Ford gebruik ’n stang met ’n verwyderbare skag waarin die bolgedeelte pas. In die toetsvoertuig is die stang self vir ’n sleepvrag van 3,1 t gesertifiseer (wat strook met die kar se sleepvermoë) en die toegelate neusgewig op die bol is 310 kg.

Dit is meer as drie keer die wettige perk (100 kg) maar gee ’n mens ’n idee hoe fris die stang self is.

Die meeste waens in Suid-Afrika is toegerus met inloopremme, en volgens wetgewing mag dié waens se BVM nie die tarragewig van die voertuig oorskry nie. In die toetsvoertuig is dit dus 2 459 kg, maar jy kan tot 3 100 kg sleep indien die wa byvoorbeeld diensremme gebruik.

Ry & Sleep sê Ford waarsku ’n mens moenie vinniger as 100 km/h sleep met die Everest nie.

Wanneer jy ’n woonwa haak, weet die rekenaar daarvan en wys selfs ’n prentjie van die kar en ’n waentjie aan die kant van die truskerm. Die trusensors word dus outomaties afgeskakel wanneer jy haak. Sodra jy die woonwa se ligteprop in die Everest se harnas druk, waarsku die rekenaar in die instrumentepaneel die blindekolsensors- en dwarsverkeer-alarms is nou afgeskakel.

Wanneer jy die Everest in trurat sit, sê dit ook die truparkeer-funksie is afgeskakel omdat ’n woonwa gehaak is. Buiten die stang kom al die modelle ook standaard met woonwaswaaibeheer. 

Wat sê ons woonwasleepkenner Pieter Crous?

Een van die eerste dinge wat my opval agter die stuur is dat die toetsvoertuig – ’n vlagskipmodel – geen ratspane het nie. Dit het waarskynlik te doen met die ratte wat jy met ’n knop aan die kant van die rathefboom kan beheer. Ford noem dit Progressive Range Select.

As jy byvoorbeeld stilstaan in Drive en die “-” druk, neem die Everest van die ratte “weg”. As jy dus deur ’n pas sleep en verkies dat die Everest net tussen die eerste vier ratte kies, kan jy dit so stel. Gestel jy wil nie in eerste rat wegtrek nie, laat die ratkas jou selfs toe om tweede te gebruik. Indien jy in Sport ry en die “-”-knoppie druk, skakel die ratkas na ’n laer rat, en as jy die “+” druk, gaan hy een op – net soos ’n handratkas.

Die ratkas spring nogal rond tussen die ratte, maar dit is omdat daar ’n volle tien van hulle is. Uiteraard is die strekking van elke rat korter as dié van ’n ratkas met minder ratte, maar dit pla glad nie wanneer jy sleep nie. Wanneer ’n mens nie sleep nie, spring die Everest soms verby sekere ratte. Van wegtrek af sal die kar byvoorbeeld dalk eerste, derde en dan vyfde gebruik. Wanneer jy sleep, gebeur dit nie.

Verder gedra hy hom stroopsoet voor die woonwa en sukkel glad nie.

Sy versnelling van 80-120 km/h met ’n woonwa is nie te watwonders nie. Ons het 15,25 s in Drive gekry en in Sport 16,2 s.

’n Mens sou heelwat bakrol verwag as gevolg van die sagte vering, maar dis gering en beïndruk my. Sy draaisirkel is net so goed. As jy links van die geel streep op die pad staan, kan jy ’n U-draai maak en net oor die ander geel streep in die ander rigting kyk. Vir ’n 4x4 is dit verstommend.

As ek oor een ding kan kla, is dit die posisie van die ruitskakelaars in die bestuurder se deur. Soos jou arm op die leungedeelte van die deur rus, is die knoppies omtrent onder jou pols. As jy jou arm probeer terugtrek om by te kom, druk jou elmboog teen die sitplek vas. Dis nogal ongerieflik om die skakelaars by te kom. Nietemin bly die Everest my nommereenkeuse as dit kom by nutsvoertuie.

Hy het ’n goeie prys en is die beste waarde vir geld.

SPESIFIKASIES

Model: 2.0 BiT Limited 4x4

Enjin: 4 silinder-dubbelturbodiesel

Krag: 157 kW @ 3 750 r.p.m.

Wringkrag: 500 Nm @ 1 500-2 000 r.p.m.

Ratkas: 10 spoed-outomaties

Aandrywing: Vierwiel met ewenaarslot agter

Tenk: 80 l

Brandstofverbruik met woonwa: 16 l/100 km (6,3 km/l)

Reikafstand met woonwa: 504 km

Tarragewig: 2 459 kg

Gewig tydens toets (neusgewig van wa ingesluit): 2 700 kg

BVM: 3 100 kg

BKM: 5 900 kg

Kombinsasiemassa tydens toets: 4 000 kg

Sleepvermoë: 3 100 kg

Sleepstang se maksimumtrekgewig: 3 100 kg

Sleepstang se maksimum- vertikale gewig: 310 kg

Is die stang verwyderbaar? Ja

Is daar plek vir ’n sakplaat? Nee

PRYS: R776 500

Die sleepding

Fabrikaat: Jurgens

Model: Safari Xplorer

Jaarmodel: 2020

BVM: 1 650 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets: 1 300 kg

Ry & Sleep het die nuwe Jurgens Xplorer by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by  021 982 4670 as jy die Xplorer van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za

Sleeptoets
Sleeptoets