Maak ’n draai by een van die Stellenbosch Straat Soirees in Drostdystraat om iets van alles te proe, sonder om self na al die wynplase hoef te ry. “Soirée” is die Franse woord vir ’n lekker aandkuier en daar is nog vyf van die geleenthede vir die somer. 

Hoe werk dit? Vir R100 kry jy ’n wynglas en 12 wynproe-koeponne – besluit self watter van die streek se wyne jy wil proe.

Daar is tafels oral in die straat waar die verskillende wynkelders gereed staan om jou glas vol te maak. Jy kan ook iets te ete kry by een van die straatmarkies, die kos word voorberei deur plaaslike kokke. Dié pryse wissel egter van stalletjie tot stalletjie.

Die historiese Drostdystraat word vir die aand gesluit sodat jy na jou hartelus kan rondwandel. Dis ook nou jou kans om ’n foto te neem van die Moederkerk wat bo jou uittroon. Kom egter eerder vroeër as later – dié gewilde buitelug-kuiers sorg dat die straat vinnig wemel met mense.

Jy hoef nie jou wynglas en burger staan-staan te probeer balanseer nie: Hier is wel sitplek as jy vinnig spring. Die aantal mense wat daarop toesak beteken egter jy sal dalk vrede moet maak om op een van die hooimiede te sit indien jy laat aankom.

Koste: Vir R100 kry jy ’n wynglas en 12 wynproe-koeponne. Daar is ook kos te koop.

Datums:

24 Januarie 2018

7 & 21 Februarie 2018

7 & 21 Maart 2018

Tyd: 6 nm.-8 nm. in Drostdystraat, Stellenbosch. Maak seker jy kom ’n bietjie vroeër om parkeerplek te kry.

Kontak: 021 886 4310; www.wineroute.co.za.