En het jy geweet sy naaste familielede is die eland, bosbok, njala en die skaars waterkoedoe – dié uiteenlopende spulletjie hou in enigiets van bergagtige dele tot riviere.

Dié bokke het almal spiraalhorings. Interessant genoeg is koedoebulle waarskynlik die enigste bokke wie se gekrulde horings tydens ’n geveg so verstrengel raak dat die bakleiers nie kan loskom nie en dan vrek – nog aan mekaar vas.

Ek het dit nog nie self sien gebeur nie, maar het al die uitgedroogde skedels van twee sulke ongelukkige opponente gesien.

Nou waaroor baklei die manne so ernstig? Wel, dis nie oor grondgebied nie, want koedoes is glad nie territoriaal nie. Hulle sal dalk gereeld in sekere gebiede gesien word, maar sal nie ’n spesifieke gebied merk of hulle teen ander bokke verdedig nie. Nee, dit gaan alles oor oorheersing en voortplantingsregte.

Gevegte tussen bulle kan tot 15 minute duur en die doelwit is om die teenstander agtertoe te stoot of met ’n draaibeweging van balans af te kry. As die verloorder ingee, jaag die wenner hom ’n hele ent weg voor hy terugkeer na die ooie.

Koedoes vreet meestal blare en kom voor in allerlei habitatte – van baie droë, halfwoestyngebiede tot klam breëblaarbosland – solank daar genoeg kos is in die vorm van weiveldkruie, bosse of bome.

Koediekalfies word in ruig plantegroei gebore en die ma bly vir die eerste dag by die kalf. Daarna sluit sy haar by die trop aan terwyl die kalf weggesteek bly. Die eerste maand maak sy 3-5 keer per dag ’n draai by haar kind, waarna sy die kalfie aan die res van die trop bekend stel.