foto’s Schalk Jonker
Roetes wat roep
Roetes wat roep

Die Vredefortkoepel daar in Parys se wêreld het ontstaan toe ’n meteoriet die aarde meer as 2 000 miljoen jaar terug getref het – hier in die Suid-Afrikaanse binneland.

En van die grootste attraksies in dié besonderse lappie aarde, wat deur Unesco tot Wêrelderfenisterrein verklaar is, is die Berakah-4x4-ekoroete. Berakah, wat “geseënd” beteken, is ’n onbegeleide roete van 15 km wat bestaan uit verskillende afdelings, elk met sy eie unieke uitdagings.

Wanneer jy aanmeld, kry jy ’n kaart, en oral langs die roete is padtekens wat jy saam met die kaart gebruik om vas te stel wat presies elke hindernis behels.

Die roete word ook deeglik met jou bespreek voor jy vertrek en jy het dus ’n goeie idee wat om die volgende draai op jou wag. Die eerste deel van die roete is nie te ernstig nie, maar haak veiligheidshalwe van die begin af laestrek.

STADIG MAAR SEKER. Die Berakah-4x4-ekoroete word gaandeweg al hoe moeiliker. Jy kan dus op die eerste deel eers jou litte losmaak voordat jy die tweede en meer uitdagende deel takel. Die roete bied ’n verskeidenheid toestande wat jou bestuursvernuf én jou ryding se vermoë behoorlik gaan beproef.

Die roete bestaan basies uit twee dele en word mettertyd moeiliker: Die tweede deel is in die berg en aansienlik meer uitdagend – en net bedoel vir ervare veldryers in voertuie met ’n ordentlike grondvryhoogte.

Jy spring op ’n houtbrug weg (nadat jy jou bande tot minstens 1,4 bar afgeblaas en jou treeplanke verwyder het) en volg die roete tussen die bome deur voor die landskap later in grasveld verander.

En langs die pad is daar meer as genoeg hindernisse om jou ryding se vermoë en jou bestuursvernuf tot die uiterste te beproef. Die eerste deel staan bekend as die Riverbed Run – hier moet jy jou draai ken soos die roete op en af en heen en weer tussen die bome deur kronkel.

IN DIE BERG. Die tweede deel van die roete is in die berg en net bedoel vir viertrekvoertuie met laestrekratte én ’n ordentlike grondvryhoogte. Moet nie hier kanse waag nie, want omdraaiplek is daar nié.

Die Otter Slide is jou eerste uitdagende afdraande, maar solank jy dit stadig vat en in beheer van jou voertuig bly, behoort jy nie probleme te hê nie. Wanneer jy onder kom, ry jy al langs die spruit tot by ’n waterkruising wat die beste uit jou sal haal, veral ná swaar reëns. Trouens, as dit erg gereën het, word dié kruising soms gesluit.

Van hier af ry jy deur die deel wat Rocky Mountain genoem word.  Hier is ’n klompie groot klippe waaroor jy moet kruip terwyl jy ál hoër klim. Hier moet jy jou lyn goed kies, en jou medebestuurder gaan op plekke moet uitklim om vir jou die beste pad te beduie. Tussen die asknopers en steil hellings deur ry jy ook oor ’n tweespoorhoutbrug of drie, en ook hier moet jy mooi kyk wat jy doen.

Kort voor lank bereik jy die bekende Elephant Hill. As jy na nr. 30 op die kaart kyk, is daar ’n groot waarskuwing, in hoofletters: VERY STEEP UP / DOWN, DEEP DITCH. Daar is ’n goeie rede hiervoor, want as jy hier nie wil droogmaak nie, moet jou tydsberekening net reg wees.

Jy het heelwat momentum nodig vir die opdraande, maar jy kan nie oor die kruin jaag nie, want jy moet voor die steil afdraande (38º) eers stilhou en mooi kyk wat onder op jou wag.

Buiten die donga is hier onder ook ’n tweespoorhoutbrug wat op jou wag. Hier kan jy nie enige foute begaan nie en jy het senuwees van staal nodig, veral as jy die eerste keer hier ry.

Net anderkant Elephant Hill kan jy eers by die piekniekterrein stilhou en ’n vuurtjie aansteek – en ’n slukkie suikerwater vat om jou senuwees tot bedaring te bring. 

Die tweede deel van die roete begin hierna, en as jou ryding nie ’n ordentlike grondvryhoogte het nie, kan jy hier omdraai en terugkeer óf by jou maat inklim wie se veldryer wel die res van die roete sal baasraak. Die bergroete loop net in een rigting en jy kan nie omdraai nie. As jy in is, is jy in. Hou hier in laestrek, aktiveer die ewenaarslotte en kruie stadig aan terwyl jy die besonderse natuurskoon om jou geniet.

Die Mineshaft is die groot attraksie hier – kom ons sê maar net dit raak doodstil in die kar terwyl jy neus eerste laer en laer teen die steilte afry. Vat dit rustig en moenie enige kanse waag nie.

Hoewel jy hare op jou tande nodig het, is dit nie iets wat jou erge hoofbrekens behoort te besorg nie.

Wanneer jy klaar is met die Mineshaft, kronkel die pad verder deur Natures Valley en die Bushy Trail, maar die ergste is nou agter jou. Wanneer jy die Home Run-bordjie sien, weet jy die koue lafenis is nie meer ver nie...

Wat jy moet weet

Maksimum getal voertuie: 20.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Net as jy onverskillig is.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Ja.

Kan ons langs die pad braai? Ja.

Kan ek halfpad omdraai? Ja, tussen die twee dele van die roete.

Is daar selfoonsein? Plek-plek, maar dis baie wisselvallig.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan: Heeljaar.

Kan ek my gesin saamneem? Ja.

Net vir die dag of die naweek? Jy kan net vir ’n dag kom, maar maak eerder ’n naweek daarvan sodat jy die roete op jou tyd kan geniet. Hier is kampplek én selfsorgchalets.

Hoe lank duur dit? 4-5 uur.

Is daar ablusiegeriewe? Ja.

Aanwysings: Ry op die N1 suid uit Johannesburg, neem die Parys-Sasolburg-afrit en draai regs op die R59 na Parys. Volg die hoofpad deur die dorp, draai regs in Van Collerstraat en ry oor die brug oor die Vaalrivier. Hou sowat 10 km aan en draai dan links op die Venterskroonpad. Hou jou oë oop vir Berakah-padbordjies.

Prys: R300 per voertuig.

Kontak: 082 339 9177; lenie@berakah.co.zaberakah.co.za

GPS: S26.823178 E27.367367