Ek het vir my ’n abbawa by Vredenburg 4x4 Accessories laat bou en is baie in my skik met hom. Terloops, Flip Pretorius en Gerhard Prinsloo van dié onderneming het al ’n hele paar “eerstes” gebou – dinge soos ’n daktent wat ónder ’n sleepwa uitskuif.

Ek het ’n Hilux met ’n verlengde kajuit, en Flip-hulle het vir ons ’n dubbelbed agter die kajuit ingerig wat dwars oopslaan.

Die matras is 20 cm dik en die blad waarop hy rus, is ’n laaistelsel met genoeg pakplek. Hier is selfs ’n klein kombuisdeel met onder meer plek vir borde en bekers. Jy klim agter met ’n drietrapleer in en die dakgedeelte slaan op sodat jy regop kan staan. Dit werk vir ons beter as ’n daktent waar jy met ’n leer tot by jou slaapplek moet klim. (Ons Snomaster-ys-vrieskas staan in die kajuit agter die sitplek.)

Die drietrapleer is agter en die dakgedeelte slaan op sodat jy regop kan staan.
Dit is vinnig om op en af te slaan.

Dit neem skaars vier minute om op en af te slaan. Boonop pas hy in enige motorhuis, want die boonste deel van die abbawa is omtrent net so hoog soos die kajuit. Hy het dus byna niks groter windweerstand as ’n gewone bakkie nie.


Lees al die nuusbriewe wat in ons November-uitgawe verskyn hier.