Frank Mabasa wat 18 jaar lank by die wildtuin se gewilde (veral onder voëlkykers) Pafuri-piekniekplek gewerk het, is in April 2017 skielik oorlede. Frank was uiters geliefd onder besoekers – hy was bekend vir sy uitstekende kennis van die omgewing se voëls. Dis beslis nie ’n maklike taak om dié Kruger-legende se skoene vol te staan nie. 

Ek gewaar Mandla Ngomane, Pafuri se nuwe opsigter, die eerste keer waar hy by die ingang van die piekniekkol met sy ore gespits staan en luister. Ná ’n ruk roep een van die besoekers hom – hulle soek nog warm water vir hulle koffie. Ha, dink ek, ’n mens kan sien waar Mandla se aandag eintlik is. Nes, Frank s’n, eerder by die voëls.

Mandla het lank as aflos vir Frank gewerk. Frank was vir hom ’n mentor en hy sou graag dat hier iets opgerig word by die piekniekkol ter nagtedagtis aan hom.

'n Mens kan sien waar Mandla se aandag eintlik is. Nes, Frank s’n, eerder by die voëls.

“Toe ek hier begin het, het ek net belanggestel in diere, maar Frank het gesê die mense gaan wil weet van die voëls. 

“Een oggend het Frank gaan brood koop en ek was alleen by die piekniekplek toe kom vra iemand iets oor ’n voël. Ek antwoord toe, ‘Frank sal nou-nou hier wees’. Toe sê die oom, ‘ek soek nie vir Frank nie, ek soek dié voël.’ Toe het ek besef ek sal iets moet doen.”

Deesdae praat hy van voëls soos die tropiese waterfiskaal, beloogbosbontrokkie, swarthelmlaksman wat gereeld hier gewaar word, as sy “troeteldiere”.

Hy vertel van een van sy beste onlangse werksdae: “Een oggend het ek ’n helder voël by my huis gewaar. Die voël het saam gevlieg tot by die piekniekplek. Daar gekom was daar nóg een. Ek was toe nie seker watse soort voël dit is nie. 

“Later die dag kom ’n ouerige tannie aan by die piekniekkol. Ons raak aan die gesels en sy sê toe in die 36 jaar wat sy park toe kom, het sy nog nooit ’n bosloerie gesien nie. Dís toe die voëls wat ek die oggend gesien het. Sy wou my nie glo toe ek vir haar sê vandag is haar gelukkig dag nie, maar sy het haar kierie gevat en stadig saam met my gestap. Toe sy die voëls sien, het sy die kamera laat val van blydskap, en ek moes al die foto’s neem. 

“Haar man het rustig een kant op ’n bankie sit en indommel. Sy’t geknipoog en gesê as die oom omkap, gaan sy met my trou.”

Ek vra hom oor die Pel se visuil, ’n skaars uilsoort wat ’n mens net hier en langs die Olifantsrivier kan sien. Mandla vertel dat ’n besoeker in Desember ’n Pel se visuil op pad na Crook’s Corner gewaar het – ’n baie rare ding deesdae. “As ek een van die uile kry, maak ek ’n toutjie aan sy poot vas en hou hom by my.”

“Haar man het rustig een kant op ’n bankie sit en indommel. Sy’t geknipoog en gesê as die oom omkap, gaan sy met my trou.”

’n Tannie kom nader en sê sy dink sy het ’n swarthelmlaksman gewaar. Mandla stap saam om te help. 

Later, net voor ons vertrek, sê hy ek moet kyk in die bosse waar die motors parkeer staan. Daar is iewers ’n grysrugkwêkwêvoël. “Luister,” sê hy, “vir die bidap-bidap-bidap.”
Rus sag, Frank. Jou erfenis is in goeie hande.


Lees Esma Marnewick se volledige storie oor die Kruger se vyf bosveldkampe hier!