Ons word gereeld gevra wat die belangrikste kamptoerusting is. Dit hang natuurlik van jou persoonlike voorkeure af – ’n jaffelpan en gasstofie gaan dalk vir jou belangriker wees as ’n sonpaneel.

Boonop is daar ’n oormag kampprodukte op die mark beskikbaar, en wanneer jy in die winkel langs die ywerige verkoopsmannetjie staan, gaan hy hard probeer om jou te oortuig jy gaan álles nodig kry wanneer julle die Fortuner pak vir julle eerste naweekkamp.

Hokaai! In dié artikel wil ons mense wat (nog) nie ’n wa aangeskaf het nie, help om die belangrikste goed eerste te kry. (Ons neem aan jy het al die tent wat by jou behoeftes pas.) Ons het hulp gaan vra by ons Facebook-vriende en die konsensus blyk te wees die volgende 5 dinge is die belangrikste.

Niks bederf ’n kamp vinniger as wanneer jy ongemaklik is nie. Veral nuwelinge. Maak seker jou tent is van ’n goeie gehalte en dat hy nie lek nie. – Cathy Buggs

1. Plak jou neer

Kampstoel
Kampstoel

Maak seker jy sit gemaklik wanneer jy kamp. Want kom ons wees nou maar eerlik: Dit is wat ’n mens die meeste van die tyd doen.

Maak seker jou stoel is stewig en dat hy nie te veel plek opneem wanneer jy pak nie. Met kampstoele is goedkoop koop gewoonlik duur koop. Belê in ’n goeie een. Jy gaan nie vir een oomblik spyt wees nie.

“Toets eers ’n paar. En leun sommer ver terug om te voel presies hoe gemaklik elkeen is.” – Russel Browne

2. Kry jou lê

As jy nie ordentlik slaap nie, gaan jy dit nóóit geniet om te kamp nie. Kry ’n ordentlike lêplek. Dit lyk of ons Facebook-vriende dit eens is dat ’n mens liefs ’n oplaasmatras moet vermy en eerder in ’n kampbed moet belê.

Dit is ’n geldige punt, maar kampbeddens is allermins goedkoop.

Ongeag waarop jy slaap, maak net seker jy lê op ’n gelyk oppervlak.

“Koop eerder minder op ’n slag en maak seker dis van ’n beter gehalte.” – Morné Eloff

3. Kom sit aan

Die probleem wat nuwelingkampeerders sal oplet, is dat ’n mens alewig ’n plek nodig het om goed neer te sit. ’n Tafel is ’n ab- solute moet wanneer jy gaan kamp.

Deesdae kry ’n mens ’n verskeidenheid modelle in alle kleure en geure wat boonop op slim maniere opvou. Maak net seker die een wat jy koop, is duursaam en vou maklik oop en toe.

“Met die kleiner goedjies kan ’n mens nog goedkoper keuses oorweeg, maar wat jou meubels betref, moet jy ordentlike goed koop.” – WesMon Gerber

4. Bly koelkop

Jou kos en drinkgoed moet koel gehou word, dís nou maar wors. En jou keuse lê basies tussen ’n koelhouer en ’n kamp-ys-vrieskas. Jou begroting en ruimte sal bepaal wat jy aanskaf, maar probeer weer eens iets van ’n beter gehalte kry.

Dit lyk dalk vanaand of daai ys jou die hele naweek gaan hou, maar as dit teen laatoggend een groot dam water is, gaan niemand beïndruk wees nie.

“Die beste belegging wat jy kán maak, is om jou koelboks te verruil vir ’n 12 V-yskas. Jy sal nooit spyt wees nie.” – Jason Reyneke

5. Kyk wat jy doen

Gelukkig is ’n draagbare lig iets wat jy waarskynlik danksy ons vriende by Eskom reeds het. Dit raak vinnig donker in ’n kampterrein, en wanneer jy in die ammokiste rondkrap vir die braaisout, help die lig van die vuur min. Jy kan nooit genoeg ligte en flitse hê nie.

Kry sommer vir jou ’n koplig, ’n kamplantern én een wat stewig in jou hand pas wanneer jy laataand ablusieblok toe stap.

“Sorg vir jou lyf. Jy moet lekker slaap, sit, drink en eet. En kry ’n goeie flits.” – Rina Cilliers