DOLFYNREDDING, OOS-KAAP

Foto's: Christiaan Bakkes

Christiaan Bakkes vertel: Op 7 Februarie vanjaar het my vrou, Marcia, op die strand langs die Woody Cape-deel van die Addo-olifant- nasionale park gedraf toe ’n bouspan van S&R Logistics wat daar naby werk, haar aandag trek. 

Hulle het haar na ’n gestrande dolfyn op die sand beduie. Ek was nie ver weg nie en sy het my kom haal. By nadere ondersoek kon ons sien dat dit ’n gewone langbekdolfyn (Delphinus capensis) is. Sy het magteloos op die sand gespartel en haar neus was beseer en bebloed.

Marko Taljaard, die bouvoorman, en ander mense het nader gestaan met handdoeke om die dolfyn nat te hou. 

Sy het magteloos op die sand gespartel...

Twee plaaslike inwoners, Verona Veltman en Lana Cummings, het die mariene bioloog Greg Hofmeyr (in Port Elizabeth) van die strand af gebel om raad te vra.

Hulle het gerapporteer dat die dolfyn kalm gehou moet word. Hulle het egter ook gesê dat dit laagwater is en dat dit net moeiliker gaan word om die dolfyn oor ’n sandbank en deur die rotse te kry. Ons het besluit om dadelik op te tree.

Die meeste van die bouers was skaam en kon nie swem nie, maar twee was bereid om dit saam met my en Marcia in die branders te waag. Ons het die dolfyn op twee handdoeke laat lê en met haar see-in gewaad.

Die branders het ons getuimel en die rotse het ons laat struikel. Ons het egter voortgestu met die dolfyn totdat sy onder ons kon uitswem. Sy het deur ’n stel branders geswem en toe teruggekeer strand toe. Sy was duidelik gedisoriënteer.

Terug op die strand het ons besluit om die proses te herhaal. Hierdie keer kon ons sien dat sy haar flank op ’n rots geskraap het. Ons is vir ’n tweede keer met haar die branders in. Weer eens het die branders ons gekasty en die rotse het ons gepootjie.

Die dolfyn is onder ons uit en met ’n boog terug strand toe. Ons het uitasem uit die see gestrompel. ’n Jong man met die naam Steven (ek het ongelukkig nie sy van gevra nie) het kom hand bysit. ’n Ruk lank het ons langs die dolfyn gesit om asem te skep.

Marcia het rustig met die dolfyn gesels.

“Ons wil jou help,” het sy gesê. “Ons wil jou terug in die see vrylaat, maar ons kan dit nie sonder jou hulp doen nie.”

’n Ander inwoner van die gebied, Tess Lovemore, het nader gestaan en haar hand op die dolfyn gesit en ’n gebed gedoen.

Dis toe dat daar nuwe lewe in die dolfyn kom. Sy het haar stert op die strand geklap asof sy wou sê: Ek is reg om te gaan. Amper terselfdertyd het ’n groot brander oor ons gebreek wat die dolfyn van die strand af gelig het. Dit was die teken en ons het ingebeur see toe, hierdie keer dieper in, deur die rotse en oor die sandbank.

Die dolfyn is onder ons uit en deur die laaste branders. Toe is sy vort diepsee toe. Ons kon haar dophou tot sy agter die golwe verdwyn.

’n Uur later was sy steeds nie terug op die strand nie.  Ander mense wat die redding van hoër grond af dopgehou het, het ons later vertel dat ’n skool dolfyne net voor die derde probeerslag agter die golwe verskyn het, omtrent op die tyd dat die dolfyn haar stert op die strand geklap het.

Dalk het hulle haar kom haal en sy het dit geweet. Ek dink die mens herken baie van die goeie eienskappe van homself in dolfyne. Dis dieselfde met olifante. Dolfyne is sosiale, intelligente diere.

Dalk het hulle haar kom haal en sy het dit geweet...

Hulle sorg en deernis roer iets in ons. In die daaropvolgende dae het ons die strand op en af gepatrolleer en haar nie weer gesien nie. Ons hoop sy is steeds saam met haar dolfynfamilie in die oopsee. 

Die natuurkenner L.D. van Essen skryf:

Die Woody Cape-gebied kry die afgelope 30 jaar gereeld strandings. In 2017 is Suid-Afrika se grootste massastranding hier aangeteken toe 38 gewone kortbekdolfyne (Delphinus delphus) uitgespoel het.

Daar is nie ’n onweerlegbare enkele verklaring hoekom die diere strand nie. Faktore wat ’n rol kan speel, is beserings, siektes of navigasieverwarring (aardbewings, wapentoetse ter see, ensovoorts, kan magneetveldafwykings veroorsaak).

Soms kom hulle bloot te na aan die kus, en strand dan. Die diere vrek ook maar weens ouderdom. Gewoonlik, wanneer ’n dolfyn ter see vrek, sal die karkas vergaan, maar in sommige gevalle sal dit op die kus uitspoel.

Siek, gestresde (byvoorbeeld ’n koei wat sukkel om te kalf) of sterwende diere sal in vlakker water inbeweeg en kan dan maklik strand. ’n Mens vind dit gewoonlik met enkeldiere of ’n koei en haar kalf.

Met massastrandings kan dit wees dat (as gevolg van die sterk sosiale bande) die héle groep hulle siek of gedisoriënteerde leier volg en sodoende saam in die moeilikheid beland.

Een teorie is dat spesies wat van eggo-peiling gebruik maak, soms probleme kry waar die seebodem teenaan die kuslyn ’n vlak helling het.

Blykbaar kan die vlak helling van sand of modder hulle sonarseine só beïnvloed dat die diere ’n vals beeld van diep water kry.

Dit wil ook voorkom of slegte weer en rowwe seetoestande (wat lei tot vuil water en beperkte sigbaarheid) ook hulle sonar negatief kan beïnvloed.

WAT KAN EK DOEN?

’n Amptelike instansie moet dadelik gekontak word, aangesien die publiek nie by magte is om ’n gestrande dolfyn (of ander seedier) te vervoer nie.

Wanneer jy inbel, gee soveel as moontlik inligting, soos die presiese posisie van die stranding, die spesie betrokke en ook die aard van beserings. Neem foto’s met jou selfoon en stuur die foto’s deur, indien moontlik.

Moets

• Hou mense (veral dié wat wil selfies neem!) en troeteldiere weg van die dier. Mariene soogdiere is besonder waaksaam, en onbekende geraas en sigbare beweging sal reeds hoë stresvlakke verhoog.

• Plaas nat handdoeke oor dolfyne en kleiner walvisse.

• Probeer skaduwee oor die diere kry met gazebo’s of iets soortgelyks.

• Draai dolfyne en walvisse op hulle maag en grawe gate vir die vinpote sodat hulle teen ’n meer gemaklike en natuurlike hoek lê.

• Kontak ’n spesialis.

Moenies

• Moenie water in die lugopening gooi of iets daaroor plaas nie.

• Moenie die diere meer as wat nodig is hanteer of aanraak nie. Moenie die diere streel nie – dit veroorsaak net meer stres.

• Moenie die dier probeer kos of water ingee nie.

• Moenie sonskerm op die dier se vel smeer nie. Organisasies wat gekontak kan word met betrekking tot strandings of waar diere verstrengel is in vislyn of -net:

• Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Durban (031 361 8567), Kaapstad ( 021 449 3500), Oos-Londen (043 700 2100), Mosselbaai (044 604 6271), Port Elizabeth ( 041 507 1911), Richardsbaai (035 753 1991) en Saldanhabaai (022 714 1726).

• Ezemvelo KZN Wildlife 083 380 6298.

• Bayworld, Port Elizabeth 071 724 2122.

• Dolphin Action and Protection Group, Kaapstad 021 782 5845.


Christiaan Bakkes: Natuurbewaarder en skrywer

“Daar is baie omtrent hierdie deel van die Oos-Kaap waarvan ek hou. Die strand tussen die Boesmans- en Sondagsrivier is een van die skoonste strande wat ek in my lewe teëgekom het. Behalwe dat daar geen voertuigspore lê nie, sien ek gereeld werkers van Sanparke wat rommel optel.

Hulle is vriendelik, professioneel en duidelik trots op hulle werk. In die dorpies hier is heelwat burgerlike vrywilligers wat betrokke is by die redding van pikkewyne, malgasse en ander seevoëls.

“Die Addo-olifant- nasionale park het ook só uitgebrei dat jy nou van die Karoo tot teen die Indiese Oseaan ’n ononderbroke bewaringsgebied het. Dit skep soveel belofte. Die moontlikheid dat ’n mens op een dag olifante op die land en suidelike noorkappers en dolfyne agter hulle in die see kan beleef, is sterk.

“Dan is daar die private grondeienaars wat hulle beesplase omskep in wildtuine vir renosters, olifante en skaars wild. Hulle loop deur onder stropers, maar hou vol met hulle bewaringspogings en probeer toerisme bevorder in ’n gebied waar die ekonomie sukkel. Dit is asof die wildernis terugkeer met behulp van die mens.”

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za