Brittany Louw, ’n voormalige gids van die Sabi Sand- private natuurreservaat, het die video in Mei 2019 geneem op ’n wildrit saam met medegids Jason Joubert. 

Video: Brittany Louw. Teken in op ons YouTube-kanaal om ons nuutste video's eerste te sien.

Sy vertel:

Dit was ’n oggendrit en die plan was om op die spoor van ’n trop wildehonde in die gebied te kom. Toe hoor ons die wildehonde naby die lodge – hulle het met die hiënas baklei! Hiënas het baie soorte roepe, en jy leer vinnig hoe dit klink as hulle ’n vangs van wildehonde gaps.

Ons het die roepe gevolg, maar was te laat. Die hiënas het reeds ’n vangs van die wildehonde gesteel en verslind – ons kon nie eens agterkom watter vangs dit was nie. Ons sien toe hoe die wildehonde wegloop, hulle ore platgetrek. Hulle was weer aan die jag! Die hiënas het kort op hulle hakke gevolg. Toe ons om die draai ry, het die wildehonde ’n volwasse rooibok gevang. Voordat ons die motorenjin kon afskakel, was die hiënas op die toneel en het die tweede vangs gesteel! 

Dié keer het die wildehonde hulle vangs probeer terugneem. Ongelukkig was daar meer hiënas as wildehonde, en hulle was nie suksesvol nie. Die wildehonde het aanbeweeg. Toe die hiënas klaar geëet het aan die rooibokkarkas, het hulle weer die wildehonde begin volg...

Ons sien dikwels dié soort gedrag wanneer wildehonde in ’n gebied is. Maar dit bly opwindend!


Dankie vir die video, Brittany! Volg haar en Jason op Instagram: @jaynbrit_in_africa.

Wil jy ook jou diere- en natuurvideo’s met ons deel? Stuur dit na digitaal@weg.co.za

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV, asook Instagram en Facebook