Die lesers Anton en Michelle Campbell-Harris het die petalje op 28 Junie 2018 naby Veertiende Boorgat in die Kgalagadi-oorgrenspark afgeneem. 

Anton vertel:

Toe ons daar aankom, was die jagluiperdwyfie in die boom en twee mannetjies het haar probeer af jaag. Nóg twee mannetjies het uiteindelik opgeklim om haar ook te verjaag.

Dié vier mannetjies is bekend as die Vier Musketiers. Blykbaar sê mense selfs leeus loop ’n wye draai om hulle! Dit het gelyk asof hulle met haar wou paar. Hoewel dit na ’n slegte ervaring vir haar gelyk het, het die mánnetjies aan die einde gebloei... vanweë bakleiery met mekaar. 

Ons het hulle vir twee uur dopgehou. Die wyfie het ons kar gebruik om haar agterkant te beskerm sodat sy haarself beter kon verdedig. Die aanvalle was sporadies, met die mannetjies wat die wyfie omring. Soms het hulle in die kar se skaduwee kom rus. 

Dit mag dalk lyk of ons dom was om ons kar se ruit afgedraai te hê, maar ons het nie bedreig gevoel nie – die mannetjies het op die wyfie gefokus.

Blykbaar sê mense selfs leeus loop ’n wye draai om hulle

Ons het by die natuurlewekenner L.D. van Essen aangeklop. Dit is wat hy te sê het oor die jagluiperds se gedrag:

Die leser is korrek, die gedrag het te doen met paring. Koalisies van 2-3 jagluiperdmannetjies is redelik algemeen, maar hulle kan tot 5 lede hê. Die jagluiperds is dikwels broers, en die res nie-verwante mannetjies. ’n Koalisie kan ’n gebied vir langer tydperke verdedig, het groter sukses om met wyfies in oestrus te paar, en jag beter omdat hulle saam kan werk.

’n Wyfie se ontvanklikheid, temperament, asook die aantal mannetjies sal bepaal of die vryery rustig of venynig, en lank of kort van duur is. Wyfies verkies om met onbekende mannetjies te paar, en is in die algemeen aggressief en verdedigend teenoor hulle maats voor paring. Wanneer sy ’n mannetjie aanvaar, is sy meer ontvanklik en jaag hulle mekaar speels. 

Die wyfie in hierdie video is aggressief, sy maak roepgeluide en klap na hulle. Dis dikwels ’n teken dat sy nie in oestrus is nie. Die aggressie van die mannetjies lyk of dit bevestig dat sy nie op hitte is nie. Hulle sal egter vir ’n tyd lank naby haar bly en wag of sy tekens wys dat sy in oestrus is.

’n Alternatief is dat sy wél op hitte was, en dat die proses later in die dag – nadat die toeriste gery het – na die speelse stadium en paring oorgegaan het.