Ons het onlangs dié video gedeel van ’n hiëna wat ’n luislang se kos gaps. Alida en Reint Dykema het daarna ’n ander video gestuur – ook ’n luislang wat ongelukkig was om sy ete te verloor! 

Kyk hoe vang dié luislang ’n kolgans, en probeer sy bes om die voël te vang. Die kolgans het wel later ontsnap, sê Reint. Die video is op 2 April geneem by ’n besproeiingsdam op ’n plaas op Pienaarsrivier in Limpopo. 

Alida vertel:

Reint het die video geneem by een van ons damme op die plaas toe hy na ’n pomp gaan kyk het. Hy het ’n wyle daar rondgestaan totdat die gans weggekom het.

Ons vermoed die luislang het nie ’n behoorlike greep op die arme gans gehad nie (dit wil voorkom asof hy hom aan ’n vlerk beet het) en dus kon die gans ontsnap!

Dit sou ’n lekker lockdown-happie wees vir die luislang as hy daarin kon slaag om die gans te vang! Reint sê hy het lanklaas so ’n groot luislang hier rond gesien.


Dankie vir die video, Alida en Reint!

Teken in op WegTV om ons nuutste video's eerste te kyk! 

Deel jou video's

Wil jy ook jou diere- en natuurvideo’s met ons deel? Stuur dit na digitaal@weg.co.za.