Die nuwe normaal, die tyd van Covid-19 en verskillende fases van inperking. Noem dit wat jy wil, maar die werklikheid is dat dié pandemie wêreldwyd verwoesting saai. Suid-Afrikaners is taamlik vroeg onder inperking geplaas, maar teen die tyd dat ons dié tydskrif drukkers toe gestuur het – en met die land in die kloue van die winter – was alle aanduidings dat ons nie die voorspelde hoogste vlakke van infeksies en sterftes bereik het nie.

Vroeg in Julie het ons die 220 000-kerf vir positiewe gevalle verbygesteek (op 12 na die hoogste ter wêreld) met ’n tragiese 3 602 sterftes. Die 106 842 mense wat positief getoets het maar herstel het, is wel bemoedigend.

Gauteng, wat ons digbevolkste provinsie is, het ook die Wes-Kaap verbygesteek wat betref positiewe gevalle per dag. Dit is groot rede tot kommer vir die kampbedryf, want die meeste vervaardigers en kampterreine is hier en in die omgewing geleë. Boonop is die moontlikheid nie uitgesluit nie dat sekere brandpunte kan terugkeer na strenger inperkingsmaatreëls.

Die vlak 3-regulasies is effens verslap, en hotelle en soortgelyke verblyfverskaffers is toegelaat om weer handel te dryf onder streng voorwaardes. Ons is ook toegelaat om op selfry-uitstappies te gaan, mits ons nie ons provinsie of, in sekere gevalle, stadsgebied verlaat nie.

Dit kan egter nie vir altyd so aanhou nie, en in die komende weke en maande móét ons in ’n stadium weer toegelaat word om te gaan kamp. Maar hoe doen ons dit op ’n veilige manier tot die wetenskaplikes met ’n entstof vorendag kom?

Beperkte besprekings

Kom ons gebruik die voorbeeld van maatskappye wat hulle werkmag in vlakke teruggebring het: In die begin het hulle op 30%-kapasiteit gewerk. Dit is ’n maklike manier om seker te maak jy het nie te veel mense saamgebondel nie en stel jou ook in staat om elke tweede of derde staanplek beskikbaar te stel vir besprekings.

By Merry Pebbles in Mpumalanga aanvaar hulle besprekings totdat 20% van die kampterrein vol is, maar sê ook hulle kan nie bekostig om veel langer gesluit te bly nie.

Die Kleine Bela-oord het agt staanplekke vir twee weke op ’n slag beskikbaar gestel vir isolasiedoeleindes – ’n slim manier om langtermynbesprekings te verseker.

Ablusiesake

Gedeelde ablusiegeriewe is ’n moeilike situasie, om die minste te sê.

Kampplekke met meer as een ablusieblok kan dit almal oophou en tussen die kampeerders verdeel om te keer dat ’n groot aantal mense dieselfde badkamer op dieselfde tyd gebruik.

Vir kampplekke met private ablusiegeriewe op hulle staanplekke is dit makliker, soos die geval is by Kleine Bela. Waterberry Park net buite St. Francisbaai wys ’n badkamer per paartjie toe vir die duur van hulle besoek. By Rivierplaas buite Worcester berei hulle voor om die kampterrein ná die winter weer oop te stel en hulle gaan personeel op bystand hê om die ablusiegeriewe deurgaans en meer gereeld skoon te maak. Daar sal ook handreiniger vir kampeerders wees by die ingang. 

’n Versigtige verwelkoming

Dis goed en wel om aanlyn besprekings te neem en vrae te beantwoord, maar wanneer gaste opdaag, verhoog die moontlikheid natuurlik dat die virus kan versprei. Dit is dus van kritieke belang dat gaste én die personeel wat hulle ontvang, gesigmaskers dra.

Besoekers se temperatuur moet ook geneem word, maar wees bedag daarop dat nie al die infrarooi termometers ewe betroubaar is nie – wees veral versigtig vir die goedkoper modelle.

Die personeel se wenkbroue gaan wel lig as jy of iemand in jou familie simptome toon wat met Covid-19 vereenselwig word – dinge soos ’n loopneus (wat minder opmerklik sal wees onder jou masker), ’n droë hoes en diarree.

Oor die minder opsigtelike simptome – soos ernstige moegheid en ’n toe neus – gaan hulle op jou eerlikheid staatmaak. By ATKV-oorde gaan besoekers met griepsimptome prontuit gevra word om hulle bespreking uit te stel of kanselleer.

By oorde waar daar nie noodwendig ’n ontvangskantoor is nie – of waar ander soort verblyf aangebied word, soos by die Bonnievale River-lodge – is die risiko laer en kon hulle onder vlak 4 reeds sakereisigers ontvang. Die kampterrein was egter gesluit.

Reinig, reinig, reinig

Die aanraking tussen individue én items en goedere moet ook beperk word, en in gevalle waar dit onvermydelik is, moet goedere deeglik ontsmet word.

Dit sluit in die pen waarmee jy inteken, die afstandbeheer vir die veiligheidshek en die sleutel vir die badkamer wat jy gebruik terwyl jy op ’n plek kamp. Van die groter oordwinkels of restaurante sal waarskynlik gesluit bly, tensy toegang streng beheer word en handreiniger en ’n temperatuurtoets by die ingang beskikbaar is.

In baie gevalle is oordrestaurante oop, maar slegs vir wegneemetes. Kontant wat van hande verwissel, is ’n moeiliker situasie. Dalk is dit hier nodig dat kampplekke aandring op elektroniese betalings óf dan masjiene aanskaf waarteen jy net jou kaart kan druk (die sogenaamde tap-funksie), soos in die meeste winkels.

G’n speletjies

Sommige mense gaan kamp om afgesonder of alleen saam met hulle mense te wees, maar een van die lekker aspekte van kamp is die sosiale aard daarvan.

Dit sal natuurlik steeds moontlik wees om saam te braai of ’n drankie in die kampterrein te geniet, maar handhaaf steeds sosiale afstandsmaatreëls.

Gemeenskaplike gebiede by oorde en kampterreine, veral swembaddens, speelparkies en speletjieskamers, bly ’n netelige saak, maar dit lyk of die ATKV deeglik hieroor besin het. Hulle stel vasgestelde swembeurte vir staanplekke en eenhede voor om seker te maak dis net ’n beperkte aantal mense wat op een slag bymekaar is.

Speelparkies en speletjieskamers word onderskeidelik twee keer per dag en elke twee uur gereinig. Waterberry Park se swembad sal eers in die somermaande weer oop wees. Veral gesinne met klein kinders moet hiperversigtig wees in hierdie onseker tye, want gesigmaskers word nie aanbeveel vir babas en kinders onder 2 jaar nie.

Hoewel kinders nie in die kwesbaarste groep val nie, is hulle immuunstelsel nog aan die ontwikkel. Baie Suid-Afrikaanse skole tas nog rond oor hoe om kinders te laat terugkom skool toe, maar ’n raserige speelterrein vol gelukkige kinders is ongelukkig iets van die verlede, want tans word géén kontak toegelaat nie.

Wanneer ’n mens gaan kamp, is dit gewoonlik tyd om jou skoene uit te skop en effens minder streng te wees met die kinders. Dit bly egter ouers se verantwoordelikheid om seker te maak hulle kinders hou by die kampplek se veiligheidsmaatreëls. Ouers moet ook nugter dink as ’n kind aan die vooraand van ’n kampwegbreek siek word.

Die laaste ding wat jy wil hê, is dat die virus onwetend oorgedra word terwyl die kleintjies speel. En onthou daardie maskers! Dit geld egter nie net vir kinders nie, maar ook vir grootmense. Of jy nou gaan stap, fietsry, swem of braai, dit is in ons almal se belang om gehoor te gee aan die regulasies – dié wat deur die regering ingestel is, maar ook die maatreëls by elke kampplek.

Bly veilig daar buite

Daar is steeds baie neebroers en mense wat gelukkig genoeg is om in hierdie pandemie gesond en in die fleur van hulle lewe te wees. Jy mag dalk nie so kwesbaar wees soos ander nie, maar jy kan steeds die virus kry en oordra aan iemand wat meer kwesbaar is.

Kom ons neem mekaar te alle tye in ag. Sien jou binnekort in die kampterrein