Petrus van Heerden van Doornberg-gasteplaas op Nieu-Bethesda het dié unieke video met ons gedeel. Hy vertel:


Ek was Saterdagoggend (13 Junie) rondom 8 vm. op pad uit en sien toe dat Sia, vernoem na die bekende sanger asook Siya Kolisi (hy is tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2019 gebore), op die ys speel. 

Hier vries dinge maar elke jaar as dit koud word, maar Sia is nog jonk en het dit nog nie beleef nie. Voor ek begin afneem het, het hy aanvanklik ook gegrawe asof hy iets onder die ys wou vang. Ongelukkig is daar geen vis in die dam vir hom nie, so ek moes hom maar aflok met ’n bietjie tunavis, want ek was bang hy val deur die ys – en ek het nie kans gesien om hom te red nie! 

Aan die einde van die video kan jy vir Lika die Weimeraner sien. Hulle is groot vriende en slaap gereeld saam op die bank as dit saans koud is. Dit was daardie oggend -7 … g’n wonder die dam het gevries nie!