GRAEME MITCHLEY van Johannesburg skryf: In Oktober verlede jaar het ek ’n wonderlike ontmoeting met ’n luiperdmannetjie gehad by die Biyamiti-keerwal op die S114 in die Krugerwildtuin. 

Toe ek by die keerwal aankom, was daar net een voertuig. Die luiperd was ’n entjie weg en het stadig na my voertuig aangestap gekom en toe op die keerwal gespring vir ’n seldsame vertoning! 

Hy het op die rotse gelê, water gesuip, heen en weer geloop en my toe van ’n paar meter af bekyk. Die adrenalien het behoorlik gepomp. 

Party mense was krities oor my oop venster, maar ek het die situasie geëvalueer en die luiperd het geensins in my belang gestel nie. Ek kon eenvoudig nie die geleentheid laat verbygaan nie. 

Die wildlewekenner L.D. VAN ESSEN sê: 

Daar is ’n paar dinge wat in Graeme se guns tel. ’n Dier sien jou nie as ’n mens in ’n voertuig is nie. Jy is bloot deel van ’n “ding” en die reuke – brandstof, uitlaatgasse, olie, ensovoorts – verdoesel tot ’n mate jou reuk.  

Die luiperd beweeg ook na die voertuig toe. As gevaarlike spesies soos leeus, olifante, luiperds, buffels en renosters na jou toe beweeg, is daar ’n mindere kans dat die situasie gevaarlik kan raak. Die dier kies om sy gemaksone aan te pas; jy dring nie in nie. 

Dit beteken egter nie dat die situasie nie kan ontaard nie. ’n Wilde dier bly ’n wílde dier. Graeme was waarskynlik nie in die geval in gevaar nie. Maar as hy skielik in die voertuig beweeg het toe die luiperd naby hom was, kon dinge anders gedraai het.

Op ’n ander dag, ’n ander luiperd of selfs dieselfde luiperd en dinge kan anders verloop.

Wanneer dit by wilde diere kom, is my motto altyd: wees liewer té versigtig!