Geo Parkes & Sons Timber Merchants het die beeldmateriaal van hulle kamerastrik op Facebook gedeel.

Dit wys hoe ’n luiperdmamma op ’n grondpad deur die Knysnawoud stap; kort op haar hakke is een van haar welpies. Ewe skielik bars die tweede welpie uit die bosse om vir boetie of sussie skrik te maak – nes kinders, dié twee karnallies!

Die video wat tans op WhatsApp versprei, sê dat die luiperds in Jonkershoek, Stellenbosch, afgeneem is, maar dit is nie waar nie. Soos aangedui op die Kaapse Luiperdtrust se Facebookblad is daar tog luiperds in Jonkershoek, maar hierdie spesifieke video is nie daar geneem nie.

Die afgelope paar weke doen talle videos die rondte waarin luiperds gesien word op plekke wat normaalweg deur mense bewoon word.

Volgens die Kaapse Luiperdtrust is dit moontlik dat sommige wilde diere, insluitend luiperds, weens die inperking nader aan bewoonde gebiede kan beweeg aangesien daar nou soveel minder geraas, uitlaatgasse en menslike aktiwiteit is wat gewoonlik maak dat dié diere hulle skaars hou. Dit is egter nie die geval dat luiperds nou skielik in heel nuwe gebiede beweeg waar hul nooit voorheen was nie.

Let wel, daar is ook baie vals berigte waarin ou beeldmateriaal hergebruik word, wanvoorstellings as feite aangebied word of waarin sensasie-belaaide opskrifte dierewaarnemings oordryf. Luiperds is uiters sku vir mense en die beste manier om hulle te bestudeer, is om kamerastrikke in hul gebiede op te stel.

"Dit is nie ongewoon om beeldmateriaal van luiperds in die berge bo sekere Boland- en Overstranddorpe soos Paarl, Stellenbosch, Grabouw, Gordonsbaai en Kleinmond te sien nie," sê Jeannie Hayward, kommunikasie- en mediabestuurder by die Kaapse Luiperdtrust.

Noudat ons binnenshuis moet bly, sal ons hopelik ’n nuwe waardering vir die buitewêreld aan die ander kant van ons heinings en teerpaaie kry.

Bronne: Kaapse Luiperdtrust; Geo Parkes & Sons Timber Merchants