Lida Kruger, haar broer Christiaan en hulle vriende, Luke Lisiecki, Nardus Grobler en Nino Caratelli het dié toneel opgevoer as deel van hulle inskrywing vir ons melktertkompetisie. Jy kan ook na die video op hulle Instagramblad kyk.

Kan jy nóg meer kreatief wees? Dis maklik om in te skryf. Maak só:

1. Kry ’n melktert in die hande tussen 1 en 28 Februarie 2019!

2. Neem ’n foto (of video!). Plaas dit op jou Facebook-blad of Instagram-profiel en merk dit #mymelktert2019 (of #mymilktart2019 in Engels) en #ladismith

3. Eet (die res van) die melktert.

Onthou, jy kan vanjaar gróót pryse wen met jou melktertfoto’s of -video’s danksy Ladismith Kaas. 1ste prys: 'n weeklange vakansie vir 2 by Kob Inn Beach Resort langs die Wildekus ter waarde van R20 000! Lees meer hier.

melktert
Wen pryse met jou melktertfoto's of -video's!


Ons gesels met Lida Kruger

Lida en haar vriende is Suid-Afrikaners wat in die Bazaruto-eilandgroep in Mosambiek bly. Dit is ook waar die video verfilm is. 

Hoekom het julle besluit om die video te maak?

Ek het my broer Christiaan en vriend Luke van die melktertkompetisie vertel nadat ek dit in Weg-tydskrif gesien het, en besluit ons moet inskryf.

Hulle is beide ywerige fotograwe, so hulle sou kon help om ’n wenfoto te neem. Toe ons idees bespreek het, het iemand gesê: “Hoekom maak ons nie ’n video nie?”

Vertel ons wat agter die skerms gebeur het?

Die proses om die video te maak was smaaklik, en hope pret! Ons het ’n duidelike idee gehad wat ons wil afneem. Christiaan was vasbeslote dat een van die waterponies moet ontplof, soos iets uit ’n Michael Bay-fliek… maar ons begroting was ’n bietjie te klein daarvoor. Ek het net een melktert gemaak vir die video – terloops, dit is nogal moeilik om ’n melktert te balanseer terwyl jy ’n waterponie bestuur. 

Christiaan was vasbeslote dat een van die waterponies moet ontplof, soos iets uit ’n Michael Bay-fliek…

Luke het in ’n stadium van die boot afgeval, maar op ’n manier gekeer dat die melktert in die water beland. Dit het ons vier dae gevat om die video te maak – beplanning, verfilming en redigering ingesluit!


En die resep vir die melktert? Lida was gaaf genoeg om dit te deel:

Ouma Lida se melktert/ “Milktart of Dreams”

melktert
Maak die melktert!

Jy benodig:

OP DIE STOOF

• 1 liter melk

• ’n Ekstra koppie melk

• 2 eetlepels botter 

VIR DIE MELKTERT

Eiermengsel:

• 3 groot eiers

• ¼ teelepel sout

• 1 koppie suiker

• 1 teelepel vanieljegeursel 

Sif:

• 2 eetlepels meel

• 2 eetlepels mielieblom

• 1 eetlepel vlapoeier

Ekstra

• Tennisbeskuitjies

• Kaneel

Maak so:

1. Verhit die melk en botter op die stoof oor matige hitte.

2. Meng die eiermengsel saam. 

3. Meng die droë bestanddele met die eiermengsel. Voeg een koppie van die warm melk by die mengsel.

4. Voeg die mengsel by die res van die melk op die stoof. Klits tot dit dik word.

5. Gooi die mengsel oor ’n gekrummelde tennisbeskuitjie-basis. Sprinkel kaneel bo-oor.

6. Laat buite afkoel, of sit oornag in die yskas.

7. Geniet dit!