NEIL DAVISON van Vaalwater vra:

Ons het dié kameelperdkoei wie se kakebeen uit lit is, op die S52-Red Rocks-pad naby Shingwedzi in die Kruger gewaar. Hoewel dit ongemaklik lyk, was sy in ’n goeie kondisie. Sy was saam met ander kameelperde, maar het nie gevreet nie.

Ons het aangeneem dit het onlangs gebeur omdat sy so gesond lyk. Dit moet sekerlik moeilik wees om te vreet of suip – hoe lank kan sy so oorleef? Is dit ’n besering of het iets gebeur toe sy klein was?

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Die kakebeen is nie uit lit uit nie. Dis waarskynlik ’n geboortedefek of sy het ’n besering met of kort ná geboorte opgedoen. Ek vermoed ek het al foto’s van dié koei gesien, die eerste keer in 2009. Sy is al verskeie kere oor die jare in die Pretoriuskop- en Stolsnek-omgewing afgeneem. Neil het haar afgeneem by Shingwedzi, sowat 300 km verder!

Dis seker nie onmoontlik nie, maar hoogs onwaarskynlik dat daar twee kameelperdkoeie met dieselfde afwyking in die wildtuin is.

Hier is 'n video van hoe sy vreet.