Hou die kroos besig met antwoorde op dié vrae en meer – die veldwagter Visser Maas trek al by Episode 10 van sy opvoedkundige dierevideo’s vir kinders! 

Visser werk as die assistentbestuurder by die N'Kaya Lodge in die Thornybush-privaatnatuurreservaat, 40 km van Hoedspruit, wat oop grense deel met die Krugerwildtuin. Hy deel nou dié video’s sedert inperking begin het in samewerking met sy vrou Arina Maas, wat ook by N'Kaya Lodge werk. 

Alhoewel die lodges in die park tans toe is vir gaste, patrolleer Visser en Arina steeds elke dag die reservaat. Hulle neem die dié video’s soos die geleentheid opduik – hy laai gereeld nuwe episodes op sy Facebook-blad.

Kyk hier na al die video’s in die reeks tot dusver, en lees ons onderhoud met Visser.

Episode 1: Oom Seekoei

Episode 2: Oom Slurp

Episode 3: Die Pajama-donkie

Episode 4: Oom Buffel drink koffie by Oom Seekoei

Episode 5: Oom Leeu

Episode 6: Die Nyala-familie

Episode 7: Hiëna speel "aan-aan"met 'n rooibok

Episode 8: Groot Oom Luiperd

Episode 9: Olifante in die reën

Episode 10: Spore van 'n Leeu

’n Onderhoud met Visser

Hoe beïnvloed die inperking jou?

Die inperking en die reisverbod wat baie van die lande geïmplementeer het, maak dit onmoontlik vir ons gaste om te reis. Die inperking het 'n baie groot invloed op die toerismebedryf. Die meeste van die lodges in ons park het hulle deure gesluit en hulle personeel afgedank tot einde Junie, dalk moontlik tot einde September.

 Ek het ook gesels met van my vriende in ander parke en dit klink of dit die norm is in hierdie tyd. Baie gidse is afgedank en moet weer werk soek as die bedryf weer herstel. Ons bly vir hierdie tyd in die lodge. Ons kyk dat alle sisteme aanhou vlot loop. Ons doen ook onderhoud aan die lodge wat moeilik is om te doen as ons gaste het. Ons help ook die teenstropingspan patrollie doen. Daar word sterk vermoed dat stropery gaan toeneem in hierdie tyd.  

Wat het jou laat besluit om dié video’s vir kinders te maak?

Ek is baie lief vir kinders. Ek en my vrou kom albei uit 'n onderwysagtergrond. Die video's was oorspronklik vir 'n veiligheidshuis vir kinders in Middelburg, om hulle te kan wys en vertel van al die diere. Hierdie huis bied 'n veilige hawe vir kinders wat weggeneem is van hulle gesinne as gevolg van huishoudelike omstandighede. Die video's was toe ook 'n treffer by my ouers se peetkinders. My sussie het my arm gedraai om dit op sosiale media te plaas.

Hoeveel video’s is jy van plan jy om te skiet?

Ek maak maar video’s soos die geleentheid kom. Ons doen elke dag patrollieritte op die reservaat. Ek kyk dan vir eienaardige spore van moontlike stropers en tel dan ook spore van die diere op. Baie van die diere kry ons sommer soos ons ry. 

Foto: Verskaf
Foto: Visser Maas
Foto: Visser Maas
Foto: Visser Maas
Foto: Visser Maas
Foto: Visser Maas
Foto: Visser Maas
Foto: Visser Maas

Help iemand jou om die video’s te skiet?

Ek is baie gelukkig om die werk en die bos met my vrou te deel. Sy geniet dit baie om saam met my rond te rits en is ook die giggel agter die kamera. Ons neem die video’s sommer met my selfoon!

Visser en Arina Maas
Visser en Arina Maas