TONY JAMES van Johannesburg vra:

Ons het dié reuse-insek gewaar by die Mabula Game Lodge naby Bela-Bela. Ek het nog nooit so ’n groot stokinsek gesien nie – is dit normaal?

Die reuse-stokinsek

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Dis die reuse-stokinsek (Bactrododema tiaratum). Die wyfies kan byna so lank soos ’n liniaal word! Die mannetjies is in die algemeen net die helfte so lank.

Hulle is van die meer oortuigende stok- en taknabootsers – die lyf is donkerbruin en -grys met ’n growwe basagtige tekstuur en hulle het twee spitse bo-op die kop. Die spesie swaai ritmies vorentoe en agtertoe as hulle gesteur word.

Hulle kom eintlik wyd voor in die warmer dele van Suid-Afrika, maar word natuurlik dikwels misgekyk.