Goeie nuus vir stappers – die Doringnek-staproete in die Zuurberg-deel van die Addo-olifant- nasionale park is nou 12km lank (dit was voorheen 8 km lank), en sal jou nagenoeg vyf uur lank besig hou. Dit sal stappers die kans gee om nóg dele van die tamaaie Zuurberg-bergreeks te sien. 

Vat halfpad langs die roete ’n blaaskans by die piekniekkol en Otto’s-swempoel. Pak water, ’n sonhoed en sonbrandroom in – veral wanneer dit warm is.

Stappers moet op die laatste om 12 vm. begin stap om betyds terug te wees by hulle motor wanneer die hekke om  5.30 nm. toemaak. Die roete begin by die Zuurberg-permitkantoor, waar jy ook kan parkeer. Dit is ongeveer 30 minute se ry onder meer oor die Zuurbergpas van die Addo-hoofkamp af tot by die permitkantoor. 

Jy hoef nie ’n gesoute stapper te wees vir dié staptog nie, hoewel daar ’n paar taai heuwels is naby die einde van die roete – matige fiksheid sal goed wees.

Wat kan ek sien op die roete?

Die Zuurberg-gebied sluit vier van die Addo se vyf biome in: fynbos, grasland, woude en subtropiese ruigte (ook bekend as vallei-bosveld). Jy kan ook drie bedreigde broodboomspesies en twee twee geelhoutspesies hier te siene kry. Hier is altesame sowat 1 100 plantspesies in die area. 

Wees ook op die uitkyk vir verskeie bokspesies soos rooihartbeeste en bosbokke, asook bobbejane en dassies. 

Koste 

Gratis, hoewel jy steeds die park se bewaringstarief moet betaal, tensy jy ’n Wild Card het.

Volwassenes: R69

Kinders: R35

Wat kan ek nog doen?

Jy kan ook ’n korter, een uur lange staproete kafdraf.

Kontak Sanparke vir meer inligting:

082 888 0201; www.sanparks.org