Ek en my man, Francois, was in Januarie 2018 vir ’n langnaweek in die Kgalagadi-oorgrenspark. Ons het die aand voor hierdie insident by Mata Mata oornag en soos gewoonlik vroegoggend met hek-oopmaaktyd vertrek. 

Tussen Dertiende en Veertiende boorgat het ons iets in die Auob-rivierloop gewaar. Ek kon my oë nie glo toe ek besef dit is ’n kameelperd wat daar in die verte lê nie! Ek het heimlik gehoop hy rus net – maar ook geweet ’n mens sien hulle selde plat lê. 

Soos ons nader gery het, het dit duidelik geword dat die kameelperd bokveld toe was. Een leeumannetjie was nog op die toneel en ons het vermoed dat hy die kameelperd in die loop van die vroeë oggendure moet gevang het.

Dit was die eerste keer in 13 jaar se besoeke aan die Kgalagadi dat ons ’n leeu met ’n kameelperd as vangs gesien het. Daar was natuurlik ook – versigtige – rooijakkalse op die toneel. Aanvanklik net twee, maar later het nog ’n paar van hulle opgedaag.

Dit was die eerste keer in 13 jaar se besoeke aan die Kgalagadi dat ons ’n leeu met ’n kameelperd as vangs gesien het.

Die mannetjie het toe net die maag begin ooptrek en nog nie veel verder gevreet nie. Hy was soms letterlik halflyf in die maag in soos hy gevreet het. Ons was net drie voertuie wat hierdie gesig aanskou het. Die leeu het ure lank by die karkas gelê – soms geëet en soms in die koelte gaan rus. 

Dit is juis toe dat die jakkalse hulle kans waag, maar die leeu het dit nie geduld nie en hulle weggejaag. 

Hy het die karkas na skaduwee probeer sleep, maar dit was te swaar. Meneer Leeu was glad nie beïndruk met die jakkalse nie: Hy was vasbeslote om nie sy vangs met hulle te deel nie. 

Die jakkalse het ná een jaagsessie egter die aftog geblaas.   Uiteindelik moes ons na ons volgende oornagplek ry en het die toneel net so agtergelaat: Met die kraagmannetjie wat in die koelte lê.

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.


Janine Malan, Stellenbosch, sê:

Ek en my man gaan al die afgelope 13 jaar omtrent elke jaar Kgalagadi-oorgrenspark toe – Maart-April is ons gunstelingtyd.

Ek is ’n vryskutwildlewe-fotograaf en het al besonderse fotogeleenthede in die Kgalagadi gehad. ’n Mens kan lekker ver sien in die droë rivierlope en diere is gewoonlik volop rondom die watergate.

Wat die Kalahari uniek maak vir fotografie, is die lig en die habitat. Enige gemsbok of leeu vertoon mooi teen ’n rooi duin. Vir my is daar nie ’n méér manjifieke dier as ’n swartmaanhaar-leeu-mannetjie nie!

My kameratoerusting bestaan uit ’n Canon EOS 7D Mk. II-kamera en vir wildfotografie kombineer ek dit met ’n Canon 100-400 mm-IS-lens. Dieregedrag is onvoorspelbaar, en daarom verkies ek om vryhand te skiet. Dié kombinasie is gemaklik om vas te hou – en dus beweeglik.