Ons boer sowat 80 km duskant Askham, en mense wat dié deel van die wêreld ken, sal weet hier is niks sommer net om die draai nie. Ek en my driejarige dogter, Elmé, het onlangs by my vriendin Petra Knoetze gaan tee drink. Petra-hulle bly 70 km ánderkant Askham, wat beteken van ons af is dit 150 km tot by hulle.

Ons is gewoond aan dié soort afstande, maar op pad terug, by die Grootaarpan, voel ek die bakkie swik in ’n draai en ek hou stil. Die regteragterband is pap, maar in ons geweste is dit nie ’n ongewone gesig nie.

Daar staan ek en my dogter langs die pad... nogal met ’n vrag soutlek agterop die Isuzu. Ek kry gou die moersleutel, die noodwielslinger en die domkrag gereed sodat ek die noodwiel kan opsit. Vir my is die moeilikste deel om die wielmoere los te kry, maar ek het al geleer jy gee die moersleutel ’n ordentlike trap of twee en die moer kom los. Maar dis ook moeilik om die slinger deur al die gleuwe en gaatjies gedruk te kry sodat jy die noodwiel onder die bak kan laat sak.

Elmé Marais
Elmé help haar mamma

Terwyl die bakkie veilig staan met die handrem op, kruip klein Elmé met haar netjiese rokkie, vellies en al onder die bak in en help om die slinger op die regte plek te kry. Dis net hier waar ek sien dis ’n foto-oomblik.

Ek hoop die man wat eendag dié meisie vir ’n trouvrou aansien, ken sy staan.


Lees al die lesersbriewe wat in ons Desember-uitgawe verskyn hier.