ELMA STORM, Olifantshoek: Ek het dié foto geneem op my swaer Willie Storm se plaas in die Kalahari – ons ry deur ’n deel van sy plaas na ons s’n toe. Ek was baie verbaas – dis mos nie gewoonlik ’n jakkals se jagplek nie? 

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord: Wat ’n mooi foto van vier dinge eie aan die Kalahari: rooi sandgrond, ’n kameeldoringboom, ’n versamelvoëlnes en ’n jakkals!

As jack russells mure en houtheinings kan klim om die buurt te verken is ’n kameeldoringboom seker nie ’n te groot uitdaging vir ’n jakkals nie – veral nie as daar ’n happie of twee betrokke is nie. Jakkalse is opportuniste en vreet ’n verskeidenheid van goed, onder meer voëltjies en eiers.

’n Reptiel of twee kan natuurlik ook in die versamelvoëlnes wegkruip. Ek twyfel of ’n jakkals by ’n lang, loodregte boomstam sal kan opklim, maar dié stam wat na links uitloop, lyk asof dit ’n heel gemaklike helling het vir Ta om te klim. Daar is heelwat foto’s van jakkalse wat bome klim in die Kgalagadi-oorgrenspark.