DR. JOHAN VAN RENSBURG van Groblersdal

Ek reageer graag op die bosbreker-artikel in Weg Ry & Sleep se Junie-uitgawe. (Lees die artikel hier)

Ek is ’n mediese praktisyn met 50 jaar ervaring en deurkruis Afrika die afgelope 25 jaar met my veldryer. Alles in die lewe behels risiko’s. In die mediese wêreld praat ons van ’n “relatiewe risiko”, groot óf klein. Ons grond ons besluite op die relatiewerisikofaktore, en ’n mens kan dieselfde doen as jy oor ’n bosbreker moet besluit.

Die risiko vir ’n voetganger in ’n ongeluk is hoog, of die voertuig ’n bosbreker het of nie. Die risiko vir die insittendes is laag vergeleke met die voetganger, maar hoër as die voertuig nie ’n bosbreker het nie. Dieselfde geld as ’n groot dier voor jou inloop.

In die geval van ’n kop-teen-kop-botsing is die risiko ook hoër sonder ’n bosbreker as met een. Die risiko dat die lugsakke nie ontplooi in ’n ongeluk nie, is relatief laag. Dis natuurlik mits die bosbreker aan die regte standaarde voldoen en professioneel geïnstalleer is.

In die veld kan ’n mens teen hindernisse soos bome of rotse vasry wat ’n hoë risiko inhou – soveel so dat ’n mens gestrand kan sit. In dié geval is jy meer beskerm met ’n bosbreker.

As jy verafgeleë plekke besoek met slegte paaie en die voertuig kry ’n stamp dat jy nie kan verder nie, sit jy met ’n ernstige risiko vir almal in die voertuig. Moet bosbrekers onwettig verklaar word?

As ’n mens na die risikoprofiel kyk hier in Afrika, maak dit geen logiese sin om bosbrekers te verbied nie. As dit gebeur, sal heelwat meer lewens in gevaar gestel word. ’n Mens voorkom nie voetgangersterftes deur bosbrekers te verbied nie, maar eerder deur mense op te voed om te alle tye die padreëls te gehoorsaam. 


Lees hier nog leserbriewe uit ons September-uitgawe.