Groot makietie op St. Helena

Willie Fourie

WILLIE FOURIE, Stellenbosch: Een van my skoonma, Smé van Zyl, en my oorlede skoonpa se wense was om St. Helena-eiland te besoek. Hulle het oor die jare bykans elke boek oor die Anglo-Boereoorlog verslind.

Hulle kon ongelukkig nooit met die HMS St. Helena soontoe vaar nie. Maar die bou van die lughawe het dinge verander. So het dit gekom dat Ouma en 20 van haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders van O.R. Tambo- internasionale lughawe na die eiland vlieg vir haar 90ste verjaardag! Hier sit ons op Jacob’s Ladder in Jamestown.

Die groep het ’n beroering op die eiland veroorsaak en oral waar ons gekom het, het die mense geweet van hierdie groep toeriste. Suid-Afrikaners kan baie by die Saints (dis hoe die plaaslike mense hulleself noem) leer oor hoe om ’n mens welkom te laat voel.

Dit was ’n onvergeetlike ervaring! Ons het gesnorkelduik, geskubaduik, visgevang, Diana’s Peak uitgestap, Napoleon se woning Longwood House en sy graf besoek, boerekrygsgevangenes se grafte besoek en gholf gespeel op “the most remote golf course in the world”.

Ongelukkig is daar nog nie ’n toestroming van toeriste soos wat hulle verwag het die lughawe sou bring nie. Hopelik baan Weg die weg. 

SKRYF AAN ONS EN WEN!

Willie wen ’n stel Zartek ZA748-tweerigtingradio’s met ’n voertuig-antennastel ter waarde van R2 900. Die duursame ZA-748 het uitstekende klank en reikwydte.

Dis klein en kan pas op ’n gordel of in jou broeksak. Elke antennastel sluit ’n magnetiese antennastaander in wat sorg vir beter ontvangs tussen voertuie, ’n luidsprekermikrofoon vir maklike kommunikasie, en ’n motorprop om mee te laai.


Los die tandeborsel – pak jou kamera

SEAN UYS, Durban: Ek moes die afgelope vakansie ’n baie moeilike besluit maak in die Felix Unite-basiskamp. Ons gesin sou op ’n vier dae lange kajaktoer op die Oranjerivier vertrek en ons het net ’n paar 25 liter-plastiekemmers vir al ons goed.

Dis nou klere, toiletware en al die ekstras wat ’n mens nodig het vir ’n sewe- en negejarige. En my kameratoerusting was nog nie eens op die lys nie... Ek is nie ’n professionele fotograaf nie, maar ’n toegewyde amateur en oor die jare heen het ek ’n paar netjiese lense en ’n hommeltuig aangeskaf. Op die laaste minuut het ek my toerusting oorgepak.

Ek het ’n paar “noodsaaklikhede” gelos en die hommeltuig, twee lense, ’n driepoot en filters ingeprop. Ek kon die epiese landskap en my kinders se ervaring behoorlik vasvang. My kamera was toe ’n noodsaaklike item! 


Suikerbekkie doen huisbesoek

SONJA INNES, Swellendam: ’n Rooibandsuikerbekkiemannetjie en -wyfie het by ons huis se voordeur ingevlieg, by die strelitzias gesit en weer uitgevlieg. Ek kon ongelukkig net ’n foto van dié enetjie kry. 


Kyk die jakkals uit die boom...

ELMA STORM, Olifantshoek: Ek het dié foto geneem op my swaer Willie Storm se plaas in die Kalahari – ons ry deur ’n deel van sy plaas na ons s’n toe. Ek was baie verbaas – dis mos nie gewoonlik ’n jakkals se jagplek nie? 

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord: Wat ’n mooi foto van vier dinge eie aan die Kalahari: rooi sandgrond, ’n kameeldoringboom, ’n versamelvoëlnes en ’n jakkals!

As jack russells mure en houtheinings kan klim om die buurt te verken is ’n kameeldoringboom seker nie ’n te groot uitdaging vir ’n jakkals nie – veral nie as daar ’n happie of twee betrokke is nie. Jakkalse is opportuniste en vreet ’n verskeidenheid van goed, onder meer voëltjies en eiers.

’n Reptiel of twee kan natuurlik ook in die versamelvoëlnes wegkruip. Ek twyfel of ’n jakkals by ’n lang, loodregte boomstam sal kan opklim, maar dié stam wat na links uitloop, lyk asof dit ’n heel gemaklike helling het vir Ta om te klim. Daar is heelwat foto’s van jakkalse wat bome klim in die Kgalagadi-oorgrenspark.


Kom stap in die Karoo

HANLIE ELLIS, Heidelberg: Ons was onlangs op die vier dae lange Heuninglandstaptoer buite Beaufort-Wes na aanleiding van die artikel in Weg se November 2017-uitgawe.

Dit was ’n uitsonderlike roete met mooi uitsigte, en die stilte van die veld soos ’n mens dit net in die Karoo kan ervaar. Niks was te veel vir ons gasheer en -vrou, Douwe en Liezl Vlok, nie.

Die maaltye was heerlik en hulle het uit hulle pad gegaan om ons te bederf en tuis te laat voel. 

’n Vlietende storm

DERICK EN ADRI TEN KROODEN, Pretoria: Die oggend van 14 Februarie was die lug potblou in die Augrabies-waterval- nasionale park. Ons het die Gorge-roete gestap en toe die 90 km-wildroete gaan ry.

Teen 10 vm. is dit reeds 32 ºC, niks ongewoons vir dié wêreld nie. Teen 1 nm. hang ’n paar wolkies in die lug, en ’n uur later kon jy sien iets is aan die broei. Ons ry terug in die rigting van die ruskamp, verby Eggohoek en Oranjekom terwyl donker wolke saampak. ’n Halfuur later is die storm naby en ons sien dié skrikwekkende “berg,” wat ál malend nader kom.

Dis nie ’n koppie op die foto nie – dis álles net storm! Jy kon sien hoe die grond en stof opgesuig word en weer bo uitkom. Ons is net betyds terug by die kamp toe dinge in alle geweld losbars: stof, wind en reën net waar jy kyk! En binne ’n halfuur is alles verby. Daar was groot skade aan die omgewing en spesifiek in die park. Talle takke was gebreek, bome ontwortel en dakpanele afgewaai. 


Maak ’n draai op Uniondale

CHRIS en BELINDA PAPENFUS, Port Elizabeth: Ons hou daarvan om nuwe plekke te verken en was onlangs op Uniondale (Weg #162) in die Langkloof. Die vriendelike Dirkie Coetzee se dorpstoer op sy “Toekie” was lekker.

Ons het met die toerismebeampte Rico Classen se hulp verby die spook se “rusplek” gery en die warmwaterbron naby Toorwater aangedoen. 


Kgalagadi oortref alle verwagtings

TRACEY LEAH THOMSON, Krugersdorp: Ons was vanjaar die eerste keer in die Kgalagadi-oorgrenspark. Ons het die volgende gesien: ’n jagluiperdvangs, die geboorte van ’n wildebees, ’n luiperd wat ’n voël probeer vang, ’n muishond wat ’n duif doodmaak, hiënas wat baklei, troppe springbokke, leeus, kameelperde, volstruise, ’n wildekat en nog wat!

Op ons laaste dag op pad uit het ons twee leeuwyfies langs die pad gewaar net voor die Twee-Rivieren-ruskamp. Ons het laat waai met die kameras. Kyk daai tande; ek was bly ek was in die kar. Kgalagadi, jy sien my beslis gou weer! 


Helde van die Kgalagadi

BETH FERREIRA, Kaapstad: Ons was op die Duinepad tussen die Mata Mata- en Nossob-ruskamp in die Kgalagadi-oorgrenspark toe ons ’n slag hoor. Parkreëls ten spyt spring ons uit asof daar ’n bom in die bakkie is. Ek gaan staan soos ’n reuse-meerkat op die bakkie om te sien of daar leeus aankom.

My dierbare man, George, wat minder as niks van meganiese goeters af weet, seil flink onder die bakkie in om te probeer uitpluis hoekom sy haar so wangedra. Die regteragterwiel wys in ’n heel ander rigting as al die ander en is stewig teen die bak vas. Dié bakkie ry nêrens heen nie. Ons klim terug en vra vir die mense wat verbyry om die kantoor in te lig.

Ons speel vyf uur lank kaart. Al diere wat verbykom, is ’n enkele muis en ’n klompie voëls. Uiteindelik sien ons ’n stofwolkie in die pad aankom. Willem Strauss (links op die foto) en Jannie Bok, ons helde in ’n Sanparke-bakkie. “Dis ’n bladveer wat gebreek het. Gebeur baie hier,” sê Willem. Binne ’n uur maak hulle die band stewig genoeg reg met bloudraad, houtbalke, toue en dinge sodat ons die 60 km tot by Nossob kan ry.

Dit was naweek en die telefoonontvangs is maar skraps. Ons kon dus eers twee dae later onderdele bestel uit Upington, en dan neem dit drie dae om op Nossob aan te kom.

’n Paar dae later, op pad huis toe, kry ons vir Willem langs die pad met die trekker waarmee hulle die pad skraap. Hy’s gestrand met ’n pap band. Hierdie keer het ons ’n kompressor en goeters om die gat te stop. Wat ’n voorreg om ons held te kon help. 


Die steenbokkie wat weggekom het...

RONÉLL VAN DER MERWE, Bapsfontein: Ons het in September verlede jaar op drie jagluiperds afgekom naby die Middelvlei-watergat op die H1-6 tussen die Mopanie- en Letaba-ruskamp.

Die jagluiperdwyfie en twee jonges het oor die pad die lang gras ingestap. Die volgende oomblik sien ons ’n steenbokkie in die jagluiperd se kloue. Dit lyk toe asof die jagluiperds nie weet wat om met die prooi te maak nie.

Die steenbok spring op en probeer wegkom, maar een van die jonges kry die bokkie weer beet. Maar die steenbok kom weer los en laat spaander. Die jagluiperds moes toe maar honger bly. Ons en net nog een voertuig het die petalje dopgehou. 


Benoude oomblikke in die Kruger

JAN VAN DER WESTHUYSEN, Port Elizabeth: Jammer dat die foto (inlas) so onduidelik is, maar dis deur die voorruit geneem terwyl ons aan ’ t bewe was.

Ons het by die Nkuhlu-piekniekplek in die Krugerwildtuin gewag vir ’n trop olifante om weg te beweeg van die ingang af. Ons “ken” mos olifante... Ons kom immers gereeld in Addo-olifant- nasionale park. Ons wag rustig dat hulle verbystap. Dit is toe ook so, tot die laaste koei die trop verlaat en na ons toe loop.

Tyd vir ‘n plan B is daar nie. Ons het oogkontak vermy, doodstil gesit en oopoë gebid terwyl ons besoeker die motor versigtig van die sierrooster af oor die enjinkap tot by die voorruit deursoek. My dapper vrou, Jo, het dié foto geneem. Ta het later stadig weggedraai. Ons het weer asemgehaal.

Naby die Timbavati-piekniekplek lê twee mooi leeus digby die pad. Ek neem foto’s met my langlens deur Jo se venster. Toe ons later na die foto’s kyk, was ons verbaas om te sien hoe naby die leeu aan Jo was!

Die aand in die kamp gil Jo en tel haar voete hoog in die lug op. Net langs haar stoel is ’n yslike bobbejaanspinnekop. Ons wou mos kom avontuur soek in die Kruger! 


Kyk wie knip ’n uiltjie!

NICK MATHIOS, Secunda: Ek wou nog altyd ’n voël in sy nes sien, veral ’n uil. Op ’n onlangse vakansie in die Krugerwildtuin het ons op die S130 tussen die Krokodilbrug- en Onder-Sabie-ruskamp gery.

Soos gewoonlik het ek elke boom goed deurgekyk. Ons het toevallig by dié boom stilgehou, en terwyl ek in die holte kyk, sien ek iets beweeg. Ek kon my oë nie glo toe ek dié nonnetjieuile gewaar nie.

My kamera het oortyd gewerk! 


Koedoe kom kuier

JORETHA JELBERT, Strand: Ons het onlangs saam met familie in die Marlothpark langs die Krugerwildtuin gekuier. Ons het elke dag ’n draai deur die wildtuin gery, maar was verbaas hoe baie diere sommer by ons huis kom kuier het, tot groot vermaak van die kleinkinders. 


Gesels met ons
Skryf aan redakteur@weg.co.za of Weg, Posbus 740, Kaapstad 8000. Jy ken al die storie... verkieslik minder as 300 woorde, en gee asseblief jou voornaam, van én tuisdorp. Weg behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort.