Ek het dié suikerbekkiepaar gesien by my seun se huis op Bela-Bela. Hulle het nesgemaak in ’n mop op ’n wasgoeddraad in die binnehof buite die kombuisdeur. Dit lyk vir my na swartsuikerbekkies.

ANDRIES NORVAL, Sandton

Die voëlkenner FAANSIE PEACOCK antwoord: Dis ’n witpenssuikerbekkiepaar wat hier nesgesk(r)op het. Dié spesie is ’n bekende in tuine in verskeie streke, en maak nes op allerlei ongewone plekke: Wasgoeddrade, potplante, afdakke... In dié geval lyk dit asof die voëls ’n slim besluit gemaak het – die nes is byna onsigbaar en die twee kuikens groei mooi.

Die wyfie bou die nes in sowat vyf tot agt dae. Droë grasspriete, blare en andergrowwe plantmateriaal word met spinnekopweb saamgebind. Afhangende van die spesie word ander boumateriale ook in die nes geïnkorporeer; dit sluit natuurlike materiaal in soos ou slangvel, plantdons, bas, ligene, sade, wol, hare en vere (ek het al tot 380 vere in ’n nes teëgekom!) en mensgemaakte versierings soos spons, mat, tou en papier.

In die natuur broei witpenssuikerbekkies gewoonlik 20 cm tot 3 m van die grond af in ’n struik of klein boom. Turksvy- of nagblombome is gewild. Baie neste word ook saamgeweef met ’n groot spinnekopnes; vir ekstra beskerming bou die wyfie die nes soms langs ’n perdebynes.


Lees nog lesersbriewe uit ons Maart-uitgawe hier