Elané en Pieter van Wyk, Wellington: Ons het die artikel oor Lesotho se groen kolle in Weg se Januarie-uitgawe baie geniet. Ons het pas die Sehlabathebe- nasionale park die eerste keer besoek.

Die naam het my lankal reeds op die kaart van Suider-Afrika opgeval en ons droom al jare daarvan om dié plek te sien. Ek het in Oktober 2017 ’n bespreking gemaak. Hulle het gevra dat ek nader aan ons aankoms bel om getalle te bevestig.

Met my tweede belslag het niemand egter die telefoon geantwoord nie. Ons reisplan was reeds vas en ons het besluit om wel soontoe te ry. Daar aangekom – via die klipperige pad oor die Ramatseliso’s Gate-grenspos – het ene Samuel bevestig dat die lodge wel oop is, maar daar is nie elektrisiteit of warm water nie.

Gelukkig het ek baie oor die lodge en omgewing gelees en gevra of ons by die ou Jonathan’s Lodge kan kamp. Hy was maar te bly om ons die pad daarheen te beduie. Gelukkig was ons redelik toegerus en kon ons drie dae lank die hemel self beleef – al is daar geen stort- of toiletgeriewe nie. Jonathan’s Lodge is ook veel nader aan die wonderlike rotsformasies as die nuwe lodge.

Drie dae was gans te min tyd om al die ongelooflike staproetes, rotsformasies, rotskuns en die waterval te beleef. Ons sal moet teruggaan! 


Lees nog lesersbriewe uit ons Maart-uitgawe hier.