Swaar dra al aan die een kant

Ons het groot geskrik toe die trekstang van my 2006 Nissan X-Trail, die dieselmodel, onlangs naby Ngodwana op die N4 breek. Ek sleep sedert 2009 ’n Jurgens Fleetline met die X-Trail.

Net buite Nelspruit hoor ek ’n klopgeluid, maar ek dink dis die bagasie agterin wat so raas. Ek besluit egter om stil te hou en seker te maak alles is in die haak. Tot my ontnugtering sien ek die regterkant van die stangarm lyk los. Dis ook die kant waar die Yellow Blade-stabiliseerder se arm inpas.

Ek besluit om met ’n slakkepas deur te druk tot by die Machado-Shell-vulstasie, sowat 100 km verder. Met nog ’n kilometer of drie om te gaan hoor ek ’n aaklige skuurgeluid soos ons om ’n draai kom. Dis die stabiliseerder se een kant wat op die pad sleep.

Ons kan nie verder nie. My vrou, Ellie, wil die nooddriehoek uithaal om die aankomende verkeer te waarsku, maar dié is onder al ons bagasie ingepak. Sy draf toe om die draai met ’n rooi sak... en daar breek sy een van haar skoene.

Toe kom ek as 70-jarige agter hoe moeilik dit is om ’n woonwa af te haak met die stang se een skouer wat op die pad druk. Maar ek kom wel reg en trek die kar weg – en laat die wa effens agtertoe loop tot teen ’n walletjie.

Terselfdertyd hou twee voertuie stil. Een van die voertuie is ’n bakkie en sleep die wa vir ons tot op Ngodwana. Die samaritane help om die stang af te skroef, en ons sien hy het aan albei kante gekraak. Die regterkant het by die een kraak afgebreek en die linkerkant se oorblywende stuk is gebuig tussen die krake.

Vusi Nkalanga sit hand by en sweis albei kante vir ons vas. Altesame 3 uur (en R1 500) later is ons dankbaar en weer op pad Roodepoort toe.

Terug by die huis bel ek die stangvervaardiger en hulle vervang die stang gratis. Volgens die spesifikasies is die stang gesertifiseer vir ’n neusgewig van 75 kg en sleepgewig van 2 000 kg.

Ons badkamerskaal wys die wa se neusgewig is 122 kg (met die battery en ’n leë gassilinder in die wa en die stoepdak se pale met die tent onder die eilandbed). Dis ’n 1996-model met sy standaardyskas, en ons eetgerei is in die kombuis ingepak. Die wa se noodwiel ry saam in die X-Trail.

By die weegbrug wys die skaal 1 320 kg, maar volgens Jurgens is die BVM 1 100 kg. Verder lyk dit of ’n woonwa se neusgewig nie geredelik beskikbaar is nie, en ’n mens dra ook nie ’n skaal saam wanneer jy ’n wa koop nie.

PIET RAUTENBACH Roodepoort

Dié X-Trail se tarragewig is rondom 1 500 kg, wat beteken jy kan wetlik selfs ’n swaarder wa sleep. Volgens Piet se syfers en dié van Jurgens is die wa oorlaai, maar steeds binne die perke van die stang. Die probleem is dus die neusgewig, want die wet beperk ’n mens tot 100 kg, en in dié geval 75 kg. Die 122 kg is dus amper dubbel soveel. Standaardwaens se neusgewig verskil, en die onus rus op die sleper om die wa só te pak dat die neusgewigperk nie oorskry word nie. Dis wel raadsaam om die wa se neusgewig so swaar as moontlik te maak vir ’n meer stabiele sleep. – Red.


Oranjemund is die ene duineplesier

Oranjemund
Oranjemund

Ek verwys na die artikel “Deur die agterplaas van die diamantdelwers” in die September 2018-uitgawe.

Na aanleiding van dié artikel besluit ons om ook ’n draai in Oranjemund se wêreld te maak. So bespreek ons plek in Desember by die Op My Stoep-lodge én vir ’n duinerit saam met Fanie Smit.

Ons kamptyd by Op My Stoep verloop glad en ons durf die duinerit saam met drie ander voertuie aan. Vóór ons wegspring, hou Fanie sy lyf Oranjemund-ambassadeur en vertel ons van die omgewing se ryke geskiedenis. Die rit word ’n avontuur: van benoude boude regdeur tot ’n gelag en huil, maar danksy Fanie se deeglike inligtingsessie loop sake klopdisselboom.

Dis ’n belewenis om met jou voertuig teen die duine af te gly, en saam met Fanie se kundigheid is ’n mens sommer op jou gemak. Oranjemund is ’n spesiale plek. Hier loop selfs gemsbokke op die dorp rond. Baie van die doendinge in die omgewing is gratis en ’n mens kan tot by die strand ry waar die manne ernstig staan en hengel.

DOT CHALMERS Centurion


Jou kombers en my matras

Ons en vriende het op ’n keer by Tietiesbaai gaan kamp. Ons een vriend, Pieter van Kraayenburg, was op pad en hy bel om te hoor watter kampmatras hy moet koop. Ek raai hom aan om ’n dubbelbedgrootte te koop, maar toe hy by Tietiesbaai opdaag en sy tent oopgooi, het hy net ’n tweemantent. En boonop het hy ’n koningingrootte matras aangekoop.

Tentsake
Tentsake
'n Boer maak 'n plan

Dit het omtrent ’n gedoente afgee en ek het toe maar voorgestel ons moet matrasse ruil. Hy neem my enkelbedopblaasmatras en daar slaap ek te heerlik op sy koningingrootte matras.

GRETHA LAURENCE Moorreesburg


En wanneer die bure balke saag?

Snork verbode
Snork verbode

Ek skryf na aanleiding van lesers se menings op die Digitaal-blad in die Januarie-uitgawe, “Hoe salig die stilte...”.

Die onderwerp handel oor geraas in die kampplek en of ’n mens jou kampbure sal verkla. Ek het nog ’n vraag: Geld dit ook vir mense wat snork?

Ek wil graag weet hoe medekampeerders optree wanneer iemand langs jou opslaan en elke aand kliphard snork dat g’n mens binne 100 m geslaap kan kry nie? Moet ons wakker lê of moet jy die snorker vra om elders op te slaan?

Ek praat van ’n geval waar nie eens oorpluisies werk nie. Moet daardie kampeerder nie aan sy medemens dink en iets aan die saak probeer doen nie?

Hulle kan minder probeer snork deur byvoorbeeld die hulp van ’n “positiewe lugdrukmasjientjie” te gebruik, ’n apparaat wat kamerlug deur ’n masker in die keel blaas en só die lugweg oophou. Of moet ander kampeerders vir lief neem en snags wakker lê?

DANIE UYS* Port Elizabeth“Danie” het besluit dis veiliger om ’n skuilnaam te gebruik! – Red