TONY JAMES van Johannesburg vra:

Ons het dié reuse-insek gewaar by die Mabula Game Lodge naby Bela-Bela. Ek het nog nooit so ’n groot stokinsek gesien nie – is dit normaal?

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Dis die reuse-stokinsek (Bactrododema tiaratum). Die wyfies kan byna so lank soos ’n liniaal word! Die mannetjies is in die algemeen net die helfte so lank.

Hulle is van die meer oortuigende stok- en taknabootsers – die lyf is donkerbruin en -grys met ’n growwe basagtige tekstuur en hulle het twee spitse bo-op die kop. Die spesie swaai ritmies vorentoe en agtertoe as hulle gesteur word.

Hulle kom eintlik wyd voor in die warmer dele van Suid-Afrika, maar word natuurlik dikwels misgekyk.


CAREL KIRSTEIN van Pretoria vra:

Ek het foto’s geneem van ’n gemsbok en ’n rooihartbees wat koppe stamp in die Kgalagadi-oorgrenspark. Is dit normale gedrag?

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Gemsbokbulle is bekend vir aggressie en sulke vertonings om hulle dominansie in ’n groep te bewerkstellig.

Carel se foto’s wys ongelukkig nie of daar nog gemsbokke in die omgewing was nie. Dalk was daar ’n gemsbokkoei in oestrus of dalk wou die gemsbok sy gebied beskerm, en die rooihartbeeste was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. In ’n onlangse videogreep wat die ronde gedoen het, daag ’n gemsbok ook ’n swartwitpens uit.

Ná ’n rukkie se koppe stamp, is die gemsbok goed rondgejaag deur die swartwitpens.


NEIL DAVISON van Vaalwater vra:

Ons het dié kameelperdkoei wie se kakebeen uit lit is, op die S52-Red Rocks-pad naby Shingwedzi in die Kruger gewaar. Hoewel dit ongemaklik lyk, was sy in ’n goeie kondisie. Sy was saam met ander kameelperde, maar het nie gevreet nie.

Ons het aangeneem dit het onlangs gebeur omdat sy so gesond lyk. Dit moet sekerlik moeilik wees om te vreet of suip – hoe lank kan sy so oorleef? Is dit ’n besering of het iets gebeur toe sy klein was?

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Die kakebeen is nie uit lit uit nie. Dis waarskynlik ’n geboortedefek of sy het ’n besering met of kort ná geboorte opgedoen. Ek vermoed ek het al foto’s van dié koei gesien, die eerste keer in 2009. Sy is al verskeie kere oor die jare in die Pretoriuskop- en Stolsnek-omgewing afgeneem. Neil het haar afgeneem by Shingwedzi, sowat 300 km verder!

Dis seker nie onmoontlik nie, maar hoogs onwaarskynlik dat daar twee kameelperdkoeie met dieselfde afwyking in die wildtuin is. Daar is ’n video op YouTube wat wys hoe sy vreet – soek vir “Giraffe with deformed jaw”.


DERIK SCHOEMAN van Fochville vra:

Ek het dié bergwagter naby ons huis gesien. Dit lyk asof daar ’n gewas op sy lyfie is. Hy lyk nie gepla daardeur nie. Wat sê die kenners hiervan?

Die voëlkenner LUKAS NIEMAND antwoord:

Dis moeilik om ’n positiewe diagnose te maak sonder om die voël te ondersoek, maar een van die algemeenste gewasse van die aard by voëls is lipome.

’n Lipoom is ’n nie-kwaadaardige gewas waar ’n oormaat vetselle onder die vel gedeponeer word. Dit kom veral op die bors- en buikarea van voëls voor. In die algemeen is dit relatief skadeloos, maar as die lipoom groter word, kan dit die beweging van die individu belemmer.

Lipome word gewoonlik veroorsaak deur ’n abnormale dieet of genetiese defekte. Vergrotings kan ook die gevolg van ’n abses wees (weens infeksie), maar dan het die vere aan die gewas meestal ’n natterige tekstuur. Dit kan ook ontstaan weens ’n sist, maar die meeste van hulle vertoon as abnormale horingagtige sakkies wat met vloeistof gevul is